Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-vroue het Pakistan met agt paaltjies verslaan in hul eerste eendagwedstryd in Lahore. Sidra Amin het ‘n onoorwonne honderdtal aangeteken en die gasvroue het 255 vir vier in hul 50 boulbeurte aangeteken. Marizanne Kapp en Tazmin Brits het daarna honderdtalle aangeteken en ‘n ononderbroke vennootskap van 216 om die derde paaltjie gedeel en die besoekers het die teiken behaal met tien balle oor. Die tweede van die drie kragmetings vind Vrydag plaas.
Afganistan se uitgeweke vrouespelers sal intussen tydens die eendag-Wêreldbekertoernooi in Indië toer, waar hulle teen plaaslike spanne sal speel. Die meeste van die spelers het na Australië gevlug toe die Taliban-regime in 2021 teruggekeer en vroue en mesies verbied het om aan sport deel te neem, onderwys te ontvang en te werk. Die span sal ook uitgenooi word om van die Wêreldbekerwedstryde by te woon. Afgaanse vroue het in Januarie in Melbourne gespeel in ‘n geskiedkundige vertoonwedstryd teen ‘n elftal van “Krieket-sonder-grense”.
# Rugby: Die Franse flank Axelle Berthoumieu se skorsing van 12 wedstryde is tot nege verminder. Sy het haar Ierse teenstander, Aiofe Wafer, gebyt tydens Sondag se kwarteindstryd van die Vroue-Wêreldbekertoernooi. Die versagting volg nadat Berthoumieu geappelleer het teen die lang skorsing. ‘n Tugkomitee sê haar skulderkenning, skoon tugrekord, berou en openbare verskoning was voldoende versagting om die skorsing te verminder. Frankryk sal Saterdag in die halfeindstryd teen Engeland ook sonder Manae Feleu moet opdraf omdat sy na ʼn gevaarlike duikslag vir twee wedstryde geskors is.
# Sokker: Die 15-malige kampioen, Real Madrid, het met tien spelers sy Kampioeneliga-veldtog op ‘n wennoot begin deur Marseille 2-1 te klop. Kylian Mbappé het twee strafdoele aangeteken, maar kaptein Dani Carvajal is afgestuur omdat hy Marseille se doelwagter, Gerónimo Rulli, met die kop gestamp het. Juventus en Borussia Dortmund het met vier-elk gelykop gespeel. Die plaasvervangers Gabriel Martinelli en Leandro Trossard het doele aangeteken om Arsenal te help om Athletic Club 2-0 te klop. Tottenham Hotspurs het Villarreal 1-0 verslaan en Qarabag het Benfica 3-2 geklop.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, is Span Europa se groot trekpleister op die jaarlikse Laverbekertoernooi wat hierdie naweek in San Francisco plaasvind. Die ander spanlede is Alexander Zverev van Duitsland, Holger Rune van Denemarke, Casper Ruud van Swede, die Tsjeggiese speler Jakub Mensik en die Italianer Flavio Cobolli. Die Fransman Yannick Noah is die nie-spelende kaptein. Die Amerikaner Andre Agassi is kaptein van Span Wêreld, bestaande uit die Amerikaners Taylor Fritz, Frances Tiafoe, Reilly Opelka en Alex Michelsen, die Argentyn Francisco Cerundolo en die Brasiliaan Joao Fonseca.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….