Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Tshepo Tshite is deur na die eindronde van die mans-duisend-500-meter op die Wêreldkampioenskap in Tokio, die eerste Suid-Afrikaner wat dit kon regkry sedert Johan Cronjé brons gewen het in Moskou in 2013. Marioné Fourie is uitgeskakel in die vroue-100-meter-hekkies-halfeindronde. In die mans-110-meter hekkies kon die Suid-Afrikaners John Adesola, Mondray Barnard en Antonio Alkana nie verby die eerste ronde vorder nie. In die paalspring-kwalifiseringsronde kon Miré Reinstorf en Kyle Rademeyer, asook die hoogspringer Brian Raats, nie een keer oor die dwarslat seil nie.
# Krieket: Die Protea-vrouespan se kaptein, Laura Wolvaardt, sê die eendagreeks teen Pakistan is die perfekte voorbereiding vir die komende Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka. Die eerste van drie eendagwedstryde begin vanmiddag in Lahore. Suid-Afrika het ‘n sterk eendagrekord teen Pakistan met 21 oorwinnings uit 28 kragmetings tussen die twee lande. Wolvaardt sê dis ʼn uitstekende geleentheid om in Suid-Asië te speel voor die Wêreldbekertoernooi begin:
Die Pakistanse beheerliggaam vra intussen wedstryd-skeidsregter Andy Pycroft moet verwyder word na die mans se Asiëbekerwedstryd teen Indië in Dubai. Dit volg nadat die Indiese spelers geweier het om hand te skud na die kragmeting, wat hulle met sewe paaltjies gewen het. Dit was die eerste wedstryd tussen die twee aartsvyande sedert die vierdaagse militêre konflik in Mei. Die voorsitter van die Pakistanse Krieketraad, Mohsin Naqvi, het dit as swak sportmanskap bestempel en ‘n klagte teen Pycroft by die Internasionale Krieketraad ingedien vir ‘n oortreding van die gedragskode.
# Gholf: Die Noorweegse ster, Viktor Hovland, maak sy eerste buiging in Suid-Afrika wanneer hy in die Nedbank-uitdaagtoernooi afslaan. Die toernooi ter ere van Gary Player word van 4 tot 7 Desember op die Gary Player-buiteklub gespeel. Hovland maak volgende week sy derde agtereenvolgende verskyning in die Ryderbeker-kompetisie op Bethpage Black in Farmingdale, New York, met Span Europa wat probeer om die trofee te behou wat hy twee jaar gelede gewen het. Die wêreld-nommer-11 is die eerste Noorweër wat al in die DP World-toer én die PGA-toer gewen het.
# En rugby: Die Franse flank Axelle Berthoumieu is vir 12 wedstryde geskors na sy ‘n Ierse teenstander, Aiofe Wafer, gebyt het tydens Sondag se kwarteindstryd van die Vroue-Wêreldbekertoernooi in Exeter, Engeland. Die 25-jarige het erken sy het ‘n rooikaart-oortreding begaan, maar gaan teen die lengte van die skorsing. Die skorsing beteken Berthoumieu is uit vir die res van die toernooi, insluitend Saterdag se halfeindstryd teen Engeland, en vir tien klubwedstryde tot Maart. Haar appèlaansoek word vandag aangehoor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….