Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Suid-Afrika is weer boaan die wêreldranglys nadat hy Nieu-Seeland Saterdag in Wellington 43-10 verpletter het vir sy grootste oorwinning ooit oor sy aartsvyand. Ierland is tweede en die All Blacks skuif af na die derde plek. Frankryk en Engeland is onderskeidelik vierde en vyfde. Australië is sewende na sy naelskraapse nederlaag van 28-26 teen Argentinië, wat nou die sesde plek beklee. Dit is ‘n belangrike posisie vir Desember se trekking vir 2027 se Wêreldbekertoernooi.
Die vier voorste spanne is intussen deur na die halfeindronde van die Vroue-Wêreldbekertoernooi. Die verdedigende kampioen, Nieu-Seeland, het Suid-Afrika 46–17 verpletter en ‘n opwindende halfeindstryd word Vrydag verwag teen die wêreld-nommer-twee, Kanada, wat Australië in die kwarteindronde 46–5 afgeransel het. In die ander deel van die trekking kom die gasvrou en wêreld-nommer-een, Engeland, Saterdag in Exeter teen Frankryk te staan. Engeland het Skotland 40-8 verslaan terwyl Frankryk Ierland naelskraaps 18-13 geklop het.
# Krieket: Gister se beslissende T20 tussen Suid-Afrika en Engeland op Trent Bridge is weens reën afgestel sonder dat ʼn enkele bal geboul is. Die Proteas het die reën-ontwrigte aanvangswedstryd in Cardiff met 14 lopies gewen, waarna Harry Brook se span sake gelykop gemaak het op Old Trafford met ʼn rekord-sege van 146 lopies. Die Suid-Afrikaners keer nou terug huis toe om gereed te maak vir die plaaslike seisoen, asook ʼn multi-formaat-toer na Pakistan in Oktober. Hulle sal hul Wêreld-toetskampioenskapstitel in twee toetse verdedig.
# Atletiek: Die 24-jarige Oblique Seville het sy Jamaikaanse landgenoot, Kishane Thompson, geklop om goud te verower in die mans-100-meter op die Wêreldkampioenskap in Tokio. Die verdedigende kampioen, Noah Lyles van Amerika, was derde. Dit is Jamaika se eerste wêreldnaelloop-titel sedert Usain Bolt in 2016. Die Suid-Afrikaners Gift Leotlela en Akani Simbine was vyfde en sewende. Die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die vroue-100-meter hekkies, Marioné Fourie, is deur na die halfeindronde en die Suid-Afrikaanse kampioen Zakithi Nene en sy landgenoot Lythe Pillay na die halfeindronde van die mans-400-meter.
# En motorsport: Die Ducati-renjaer Marc Marquez is nader aan sy sewende MotoGP-titel nadat hy die San Marino Grand Prix in Italië gewen het. Die Spanjaard het die Aprilia-renjaer Marco Bezzecchi in die 12de ronde verbygesteek en nie weer teruggekyk nie. Bezzecchi was tweede en die Gresini Racing-jaer Alex Marquez derde. Die Suid-Afrikaner Brad Binder was tiende. Marquez, wat met 182 punte voorloop, kan die titel dalk later die maand in die Japannese Grand Prix beklink, maar sê hy vat dit een wedren op ʼn slag:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….