Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-hulpafrigter Duane Vermeulen het baie vertroue in die jong agterlyn vir Saterdag se tweede Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Wellington. Hy wil graag sien wat die jong, opwindende spelers kan uitrig na verlede week se nederlaag in Auckland. Vermeulen glo dis die perfekte geleentheid vir die afrigters om te sien hoe die onervare spelers onder druk vertoon terwyl daar gebou word vir 2027 se Wêreldbekertoernooi. Hy glo die voorspelers sal die agterspelers goed ondersteun met skoon balle om mee aan te val.
Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, het intussen ses veranderings aan sy span aangebring. Die nuweling Leroy Carter vervang Rieko Ioane op linkervleuel. Samisoni Taukei’aho staan in vir Codie Taylor, wat harsingskudding het. Will Jordan verskuif van heelagter na regtervleuel in die plek van die beseerde Emoni Narawa. Noah Hotham en Tyrel Lomax is terug in die opdrafspan en Brodie McAlister is op die bank.
# Krieket: Suid-Afrika het Engeland ingevolge die Duckworth-Lewis-Stern-metode met 14 lopies verslaan nadat reën die eerste T20-kragmeting in Cardiff ontwrig het. Aanhoudende reën het die wedstryd met twee uur vertraag en elke span het nege beurte gekry. Aiden Markram het 28 behaal en die Proteas kon 97 vir vyf aanteken voor reën die spel weer onderbreek het. Engeland se teiken is toe aangepas tot 69 in vyf boulbeurte. Corbin Bosch en Marco Jansen het twee paaltjies platgetrek en die gashere het geëindig op 54 vir vyf.
# Atletiek: Die Suid-Afrikaanse naelloper, Akani Simbine, sê hy is vol vertroue dat hy sy eerste individuele 100-meter-medalje kan inpalm op die Wêreld-kampioenskap wat die naweek in Tokio, Japan, begin. Hy sal ook deelneem aan die vier-maal-100-meter-aflos. Die 31-jarige atleet het hierdie seisoen drie Diamantliga-oorwinnings behaal en in Maart ook ‘n bronsmedalje verower op die Binnenshuise Wêreldkampioenskap. Simbine sê die medaljes wat hy wen, is bloot die kersie op die koek.
Nog ‘n Suid-Afrikaanse naelloopsensasie, Bayanda Walaza, moes egter aan die byeenkoms onttrek. Die 19-jarige atleet het verlede maand sy been beseer tydens die laaste Diamantliga-byeenkoms in Zürich, Switserland. Atletiek Suid-Afrika sê die besluit om Walaza te onttrek is in die beste belang van die atleet en die nasionale span se integriteit. Hy sal in die 100-meter vervang word deur Retshidisitswe Mlenga. Walaza sou ook aan die aflos deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….