Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Aiden Markram en Laura Wolvaardt was die groot wenners op Krieket Suid-Afrika se toekennings in Johannesburg toe hulle as mans- en vroue-speler van die jaar aangewys is. Markram het ook die spelers se speler van die jaar-toekenning gekry. Wolvaardt is ook vereer as beste eendag-speler, beste T20-speler en spelers se speler van die jaar. Simon Harmer en Matthew Breetzke is onderskeidelik aangewys as die mans-toets- en eendagspeler van die jaar. Lungi Ngidi is die T20-internasionale speler van die jaar en Suid-Afrikaanse ondersteuners se speler van die jaar.
# Rugby: Die afrigter van die Junior Springbokke, Kevin Foote, het drie veranderinge aangebring aan die span wat Engeland in die Junior Wêreldkampioenskap-halfeindstryd geklop het. Hy het twee aanpassings onder die voorspelers gemaak vir môre se eindstryd teen Frankryk in Georgië, met Wasi Vyambwera wat op nommer agt uitdraf, en Gert Kemp wat na die bank skuif. Risima Khosa begin op flank en Alzeadon Felix kom in op heelagter vir Luan Giliomee, wat ‘n rooikaart gekry het teen Engeland. Afskop is môreaand half-sewe.
Nog rugbynuus: Wallis se afrigter, Steve Tandy, wil ‘n deeglike fisiese aanslag sien wanneer sy span in môre se Nasieskampioenskaps-ontmoeting teen die Springbokke in Durban te staan kom. Hy besef hulle gaan teen waarskynlik die mees fisieke span ter wêreld speel, en sê dis ‘n wonderlike geleentheid om hulself teen die wêreldkampioen te bewys. Tandy het ses veranderinge aangebring aan sy beginspan wat verlede naweek teen Argentinië verloor het, insluitend die versterking van sy pak. Kaptein Dewey Lake het ‘n laat fiksheidstoets geslaag en sal die span lei.
# Gemengde gevegskuns: Die Suid-Afrikaner Dricus du Plessis hoop om Sondag sy reis terug na die UFC-middelgewigwêreldtitel te begin in sy geveg teen die Nigeries-Amerikaner Kamara Usman in Oklahoma, Amerika. Hy het sy gordel twee keer suksesvol verdedig voordat die Rus Khamzat Chimaev hom in Augustus verlede jaar verslaan het. Die 32-jarige Du Plessis dink nie ‘n oorwinning oor Usman sal genoeg wees om hom ‘n wêreldtitelgeveg te besorg nie, maar sal die organiseerders se aandag trek met ‘n vertoning wat sal bewys hy’s die beste in die wêreld.
# En motorsport: Die heersende Formule Een-wêreldkampioen, Lando Norris, word met tien wegspringplekke gestraf in die Belgiese Grand Prix nadat die toegelate krageenheid-toewysings oorskry is. Sy McLaren sal met ‘n nuwe krageenheid toegerus wees, sy vierde hierdie seisoen, wat een meer is as wat toegelaat word sonder straf. Norris sal Sondag hoogstens in die elfde posisie kan wegspring, maar sê die opgraderings wat aangebring is, sal hopelik ʼn verskil maak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….