Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-agterspeler Ethan Hooker sê hy is tegelykertyd senuweeagtig en opgewonde, maar fokus net daarop om na die beste van sy vermoë te speel. Die 22-jarige speler draf Saterdag die eerste keer in die opdrafspan uit wanneer Suid-Afrika en Nieu-Seeland in Wellington kragte meet. Hy was verlede week in Edenpark op die plaasvervangersbank. Hooker sê sy enigste doelwit is om uit te gaan en homself sonder vrees uit te druk:
Die voormalige kaptein, Richie MacCaw, het die All Blacks gemotiveer voor Saterdag se herontmoeting met die Springbokke. Die gasheer sê hy wil sy spelpeil verhoog na verlede naweek se oorwinning. Nieu-Seeland is steeds onoorwonne op Edenpark sedert 1994 nadat hulle Suid-Afrika 24-17 geklop het. Die senter Quinn Tupaea, wat die wendrie gedruk het, sê MacCaw se teenwoordigheid het die spelers besiel aangesien hulle verwag die besoekers gaan hoogs-gemotiveerd wees om sake om te keer.
# Sokker: Bafana Bafana is ‘n stap nader aan kwalifisering vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi na die gelykop-uitslag teen Nigerië op die Vrystaat-stadion in Bloemfontein. Suid-Afrika het die voortou geneem danksy ‘n eie doel deur William Troost-Ekong. Calvin Bassey het die Super Eagles se gelykmaker egter net voor rustyd aangeteken. Bafana het nou 17 punte en behou hulle posisie boaan Groep C, met twee uitspeelwedstryde wat oorbly. Afrigter Hugo Broos sê hy is trots op sy spelers:
# Krieket: Die Dolphins bied die naweek die eerste toernooi van die nuwe plaaslike T10-beker aan. Hulle sal met die Lions, die Titans en Westelike Provinsie meeding. Die Lions en WP pak mekaar Vrydag, terwyl die gasheer en die Titans sal kragte meet. Saterdag gaan al die spanne elk twee wedstryde speel om te bepaal wie deurdring na Sondag se eindstryd en uitspeelstryd om derde plek. Die uitvoerende hoof van KwaZulu-Natal Krieket, Heinrich Strydom, sê dis die perfekte manier om voor te berei vir die nuwe seisoen.
# En tennis: Die Davisbeker-wedstryd tussen Kanada en Israel sal die naweek in Halifax weens veiligheidsredes in ʼn geslote ruimte sonder toeskouers gespeel word. Dit volg nadat meer as 400 Kanadese atlete en akademici Tennis Kanada in ʼn brief aangeraai het om die geleentheid af te stel weens Israel se optrede in Gaza en die Wesoewer. Tennis Kanada sê volgens inligting van plaaslike owerhede en nasionale sekerheids-aentskappe is daar ʼn groot gevaar dat die geleentheid ontwrig kan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….