Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Jasper Wiese is reguit in die Springbokke se opdrafspan ingesluit na sy skorsing van vier wedstryde vir ‘n kopstamp tydens ‘n toets teen Italië in Julie. Afrigter Rassie Erasmus het hom in die nommer agt-trui gekies vir Saterdag se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Nieu-Seeland in Wellington, en kaptein Siya Kolisi is terug op flank. Erasmus sê Wiese is gretig om sy teenwoordigheid te laat geld nadat hy die afgelope twee maande slegs kon oefen. Hy sal waarskynlik nie die volle 80-minute speel nie, maar hulle het hom beslis nodig.
Die nuwe afrigter van die Bulle, Johan Ackermann, het intussen die Bok-slot Ruan Nortjé as kaptein aangewys vir die komende Verenigde Rugbykampioenskaps-seisoen wat later die maand begin. Hy het ‘n groep van 56-spelers gekies in die groep, wat uit 32 voorspelers en 24 agterspelers bestaan. Dit sluit ervare spelers soos die Springbok-losskakel Handré Pollard en die senter Jan Serfontein in, en die Junior Bok-wêreldkampioene Esethu Mnebelele, JJ Theron, Jean Erasmus, Jaco Grobbelaar en Cheswill Jooste. Die Bulle se eerste wedstryd is tuis teen die Ospreys op die 27ste.
# Sokker: Bafana Bafana speel vandag in Bloemfontein teen Nigerië, wetende dat ‘n oorwinning regstreekse kwalifikasie vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi sal verseker – mits geen strafpunte afgetrek word nie. FIFA moet nog besluit of Suid-Afrika drie punte moet verbeur vir die insluiting van die geskorste Teboho Mokoena in die span wat Lesotho in Maart 2-0 geklop het. Bafana lei Groep C met 16 punte, met Benin tweede en Nigerië derde. Kaptein Ronwen Williams sê hulle is gefokus op die wedstryd:
# Krieket: Engeland gee sy top-orde-kolwers, Ben Duckett en Jamie Smith, ‘n blaaskans tydens die T20-reeks teen Suid-Afrika. Dit lyk asof Phil Salt, wat terugkeer ná vaderskapsverlof, die kolfbeurt sal open saam met Tom Banton of Will Jacks. Hoofafrigter Brendon McCullum sê hulle moet leer hoe om hulle besige internasionale program beter te hanteer, wat insluit dat spelers ruskans kry. Die eerste van die drie T20s word môre in Cardiff gespeel.
# En tennis: Die pasgekroonde Amerikaanse Ope-kampioen, Carlos Alcaraz, sê ‘n loopbaan-Grand Slam is sy doelwit nadat hy Sondag sy sesde Grand Slam-titel ingepalm het. Hy het sy vernaamste teenstander, die Italianer Jannik Sinner, as die wêreld-nommer-een vervang, en sal die jongste man wees om al vier Grand Slam-toernooie te wen as hy in Januarie in die Australiese Ope seëvier. Die 22-jarige Alcaraz het nog nooit verder as die kwarteindronde in Melbourne gevorder nie. Sy beroemde landgenoot, Rafael Nadal, was 24 toe hy in 2010 die loopbaan-Grand Slam bereik het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….