Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Die Suid-Afrikaner Akani Simbine het binne 9,98-sekondes oor die wenstreep genael in die mans-100-meter op die Diamantliga-byeenkoms in Zürich, Switserland. Sy landgenoot, Bayanda Walaza, het sy been beseer. Christian Coleman van Amerika het gewen en Ackeem Blake van Jamaika was derde. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Jo-Ané du Plessis, was derde in die vroue-spiesgooi wat die Griek, Elina Tzengko, gewen het, met Adriana Vilagos van Serwië tweede. Die wêreld se binnenshuise kampioen, Prudence Sekgodiso, het sesde gekom in die vroue-800-meter.
# En nou rugby: Kaptein Victor Sekekete hoop om die Cheetahs in sy 100ste wedstryd te lei na ‘n oorwinning oor Griekwas in vanmiddag se Curriebekerwedstryd in Bloemfontein. Hy beskryf die mylpaal as ‘n droom wat verwesenlik is en sê ‘n oorwinning sal die kersie op die koek wees. Albei spanne het vier van hul vyf vorige wedstryde gewen, met die Cheetahs boaan die punteleer en die besoekers derde. Sekekete sê hulle het hul foute reggestel nadat hulle die Leeus verlede naweek amper toegelaat het om terug te kom in die wedstryd.
Die Haaie het intussen ses veranderinge aan hul beginspan aangebring vir môre se voorlaaste groepswedstryd teen Boland Kavaliers in Pietermaritzburg. Die gashere is optimisties na verlede week se bonuspunt-oorwinning oor Westelike Provinsie. Siya Masuku maak sy eerste verskyning in die kompetisie vanjaar op losskakel, Paschal Ekeji speel vleuel, terwyl Albie Bester op binnesenter inkom. Onder die voorspelers is Jacques Marais op haker en Jannes Potgieter op flank, terwyl Mawande Mdanda die nuwe vaskopstut is.
# Krieket: Die Australiese snelbouler Josh Hazlewood verwag ‘n reuse-kolfaanslag van Engeland in die reeks om die As en sê die besoekers gaan waarskynlik die sterkste span bring wat hy ooit teëgekom het. Hy wil ‘n vierdagwedstryd in die plaaslike Sheffieldskild-kompetisie speel voor die vyf toetse nadat hy in vyf van die onlangse ses witbalwedstryde teen Suid-Afrika gespeel het. Hazlewood glo Engelse kolwers soos Joe Root en Harry Brook kan gevaarlik wees. Die eerste toets begin op 21 November in Perth.
# En ons sluit af met tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, het deurgedring na die derde ronde van die Amerikaanse Ope toe hy die Australiër Alexei Popyrin verslaan het. Dis die Italianer se 23ste opeenvolgende oorwinning in hardebaan-Grand Slam-toernooie. Alexander Zverev van Duitsland het teen Jacob Fearney van Brittanje gewen en Kamil Majchrzak het Karen Khachanov van Rusland kafgedraf. In die vroueafdeling het die Wimbledon-kampioen, Iga Swiatek van Pole, die Nederlander Suzan Lamens geklop en die Amerikaner Coco Gauff het met Donna Vekic van Kroasië afgereken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….