Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Oud-Springbok-kaptein Jean de Villiers sê ondersteuners verkies dit as die nasionale span wen, al is dit met vervelige rugby, en bevraagteken hoofafrigter Rassie Erasmus se wedstrydplan wat hy glo die skare tevrede sal stel. Hy verwys na Suid-Afrika se onlangse nederlaag teen die Wallabies toe die span sy speelstyl verander het, maar teruggekeer het na ‘n konserwatiewe benadering om die volgende toets te wen. De Villiers sê toeskouers wil vermaak word, maar Bok-ondersteuners wil steeds hê hul span moet wen, selfs al is dit nie mooi rugby nie.
# Sokker: Die eindstryd van die MTN8 tussen Orlando Pirates en Stellenbosch sal op 13 September op die Mbombela-stadion in Mpumalanga gespeel word. Die Premierliga het bevestig dat die driemalige verdedigende kampioen, Pirates, as die tuisspan geloot is. Die wedstryd sal ‘n herhaling wees van verlede jaar se eindstryd toe hulle Stellenbosch met 3-1 by die Moses Mabhida-stadion in Durban geklop het. Pirates het Mamelodi Sundowns in die halfeindstryd geklop, terwyl Stellenbosch vir Sekhukhune United verslaan het. Inligting oor kaartjieverkope sal later bekend gemaak word.
# Tennis: Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris is in die Amerikaanse Ope se tweede ronde uitgeskakel deur verlede jaar se naaswenner, Taylor Fritz van Amerika. Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, het die Italianer Mattia Bellucci maklik verslaan om die derde ronde te haal. Alcaraz se moontlike teenstander in die halfeindronde, die Serwiër Novak Djokovic, het met die Amerikaanse kwalifiseerder Zachary Svajda afgereken. In die vroueafdeling het verlede jaar se naaswenner, Jessica Pegula van Amerika, en die Brit Emma Raducanu ook na die derde ronde deurgedring.
Die Rus Daniil Medvedev is intussen met 750-duisend-rand beboet vir sy woede-uitbarsting tydens sy eerste ronde-nederlaag teen Benjamin Bonzi van Frankryk. 2021 se kampioen het kwaad geword toe ‘n fotograaf op die baan gestap het terwyl hy in die derde stel wedstrydpunt moes afweer en het na die wedstryd sy raket stukkend geslaan. Medvedev is met 530-duisend-rand beboet vir onsportiewe gedrag en nog 220-duisend rand vir raketmisbruik. Dit beteken dat hy byna 40-persent van sy prysgeld verbeur.
# En ten slotte, gholf: Keegan Bradley het besluit om nie ‘n spelende kaptein vir die Amerikaanse Ryderbeker-span te wees nie. Hy het Justin Thomas, Collin Morikawa, Ben Griffin, Cameron Young, Patrick Cantlay en Sam Burns benoem as sy ses keuses vir volgende maand se kompetisie teen Europa in New York. Die ses outomatiese kwalifiseerders is Scottie Scheffler, JJ Spaun, Xander Schauffele, Russell Henley, Harris English en Bryson DeChambeau. Bradley sê dit was ‘n moeilike besluit om nie self te speel nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….