Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met Statebondspele: Die swemmer Pieter Coetze is Suid-Afrika se grootste uitblinker op die Statebondspele in Glasgow. Hy het sy derde goue medalje verower toe hy die mans-100-meter rugslag gewen het in die tweede vinnigste tyd ooit. Die 22-jarige se tyd van 51,77-sekondes is slegs 0,17-sekondes stadiger as die wêreldrekord wat die Italianer Thomas Ceccon vier jaar gelede opgestel het. Coetze is ook die eerste manlike swemmer om drie goue medaljes in Skotland te wen nadat die Australiërs Lani Pallister en Jenna Forrester dieselfde prestasie in die vroue-afdelings behaal het.
Chad le Clos het intussen die mees bekroonde atleet in die Spele se geskiedenis geword toe hy sy 21ste medalje gebuit het toe Suid-Afrika brons gewen het in die mans-vier-maal-100-meter-wisselslag-aflos. Die vroue-aflosspan spog ook met brons. Ruard van Renen was derde in die mans-100-meter rugslag. Kaylene Corbett spog met silwer in die vroue-200-meter-borsslag. Die Paralimpiese atleet Christian Sadie het goud gewen in die mans-S7-50-meter-vryslag. Suid-Afrika se medalje-oes staan nou op 22.
# Rugby: Wêreldrugby het die skedule vir 2027 se Sewesreeks en Wêreldkampioenskap bevestig na ‘n mylpaal-jaar waarin die Blitsbokke albei kompetisies gewen het. Die seisoen sal weereens in November in Dubai afskop voordat Kaapstad, Singapoer, Perth, Vancouver en New York aan die beurt kom, met die Wêreldkampioenskap daarna in Hongkong, Valladolid en Bordeaux. Suid-Afrika sal sy Kaapstadse kroon op 5 en 6 Desember verdedig. Wêreldrugby sê die huidige seisoen het meer as 530-duisend ondersteuners gelok, 21-persent meer as verlede jaar.
# Gholf: Die ervare Ryderbeker-speler Padraig Harrington gaan volgende jaar ‘n bestuursrol inneem nadat hy aangestel is as een van Span Europa se drie onderkapteins. Die 54-jarige Ier is ‘n driemalige major-kampioen wat al ses keer in die kompetisie gespeel het. Harrington en die Molinari-broers van Italië, Eduardo en Francesco, sal die Engelsman Luke Donald se steunpilare wees op Adare Manor in Ierland, waar Europa gaan probeer om Amerika die derde agtereenvolgende keer te klop.
# En tennis: Vanjaar se rekord-aantal besoekers aan Wimbledon word toegeskryf aan die sonnige weer. Meer as 550-duisend toeskouers het deur die All England Club se hekke gestroom vir die grasbaan-Grand Slam-toernooi. Dis effens meer as verlede jaar, terwyl daaglikse bywoningsrekords op drie afsonderlike dae opgestel is. Wimbledon het die eerste keer sedert 2019 twee reënvrye weke beleef, terwyl die plaaslike promotorskeuse Arthur Ferry se vordering tot die halfeindronde ook die Britse publiek se verbeelding aangegryp het. ‘n Rekord-getal van 118-duisend hoede is verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….