Sportnuus 12:30
NUUSFLITS SPORTNUUS 15 November 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met rugby: Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie sê alle trofeë, insluitend ʼn replika van die Webb Ellis-beker, is veilig nadat daar Maandagaand by SA Rugby se hoofkantoor in Plattekloof, Kaapstad, ingebreek is. Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, FC van Wyk, sê twee inbrekers het deur ʼn venster op die grondvloer toegang gekry tot die kantoorkompleks wat onder andere Saru-huis huisves. Hy sê by die eerste maatskappy is vyf getekende Springbok-truie, whisky en agt skootrekenaars gesteel. By ‘n ander maatskappy is 60 skootrekenaars gesteel.
Die Ierse Verenigde Rugbykampioenskapspan, Connacht, gaan ondertussen in Suid-Afrika toer sonder sleutel-toetsspelers. Bundee Aki, Santiago Cordero en Mack Hansen is afwesig terwyl Connacht voorberei vir ‘n wedstryd teen die Haaie in Durban dié Saterdag, gevolg deur ‘n kragmeting met die Bulle in Pretoria. Ondanks die drie se afwesigheid is Connacht in ‘n stewig vyfde plek op die punteleer na slegs een nederlaag in die seisoen.
# Vervolgens, Wêreldbeker-krieket: Suid-Afrika hoop dis vyfde keer skeepsreg wanneer hulle Australië môre pak in die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi. Die Proteas het in vier vorige halfeindstryde vasgeval – in 1992, ’99, 2007 en 2015. Hulle het in 1999 en 2007 teen die Aussies verloor, op Edgbaston en in St Lucia. Terwyl die Proteas hulle gereedmaak vir die komende kragmeting op die ikoniese Eden Gardens in Kolkata wil hulle die halfeind-verhaal verander en uiteindelik deurdring na die eindstryd.
# Tennis is volgende aan die beurt: Jannik Sinner het sy eerste oorwinning ooit oor Novak Djokovic behaal en die wêreld se nommer een sy eerste nederlaag sedert Wimbledon by die ATP-jaareindtoernooi in Turyn laat ly. Die Italianer het die Serwiër met 7-5, 6-7 en 7-6 geklop en is daarmee ‘n stap nader aan ‘n halfeindwedstryd in die Groen Groep. In die ander wedstryd moes die Griek, Stefanos Tsitsipas, na slegs drie potte teen Holger Rune weens ‘n mediese rede onttrek, wat die Deen sy eerste oorwinning besorg het. Sinner sê dit beteken baie om die wêreld se nommer een te klop:
Speel klankgreep: ENG SinnerOnBeatingNovak
# Ons sluit vandag af met sokker: Brasilië se nasionale spandokter, Rodrigo Lasmar, het bevestig die voorspeler Neymar gaan lank op die kantlyn sit na ‘n onlangse knie-besering. Hy het twee weke gelede ‘n operasie ondergaan en gaan na verwagting ‘n hele ruk lank buite aksie wees weens ligament- en ander beserings in die linkerknie. Lasmar is tevrede met Neymar se vordering, maar beklemtoon die ingewikkelde aard van die besering, wat ‘n uitgebreide rehabilitasie-proses noop. Die Brasiliaanse beheerliggaam hoop Neymar sal kan terugkeer vir die 2024 Copa America in Junie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….