Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, volhard met die spelers wat in die eerste twee Rugbykampioenskapstoetse teen Australië diens gedoen het vir volgende maand se toer na Nie-Seeland. Die vleuels Kurt-Lee Arendse en Edwill van der Merwe is beseer en Makazole Mapimpi sal die toer meemaak. Cobus Wiese, die enigste voorspeler wat teen die Wallabies gespeel het wat nie in die groep is nie, is op bystand geplaas. Jasper Wiese dien steeds sy skorsing uit en sal eers vir die tweede toets in Wellington beskikbaar wees.
Die Springbok-vroue het intussen hul Wêreldbeker-veldtog afgeskop met ‘n oorwinning van 66-6 oor Brasilië in Northampton, Engeland Suid-Afrika het tien drieë gedruk met Aseza Hele wat drie keer agter die doellyn gekuier het. Dit is die Bok-vroue se eerste Wêreldbeker-groepsoorwinning sedert 2010. Afrigter Swys de Bruin se span sal volgende teen Italië te staan kom voordat hulle die groepfase teen Frankryk afsluit.
# Swem: Die Suid-Afrikaner Kris Mihaylov het sy eerste goue internasionale junior medalje in die 200 meter-vlinderslag in Roemenië gewen. Die 18-jarige swemmer het sy vorige persoonlike beste tyd laat spat en twee sekondes vinniger as in die kwalifiserende rondes geswem om in een-minuut-56,16-sekondes klaar te maak. Die Hongaar David Antal het silwer gewen en Tuncer Berk Ertürck van Turkye spog met brons. Die Italianer Carlos D’Ambrosio en Peiqi Yang van China is onderskeidelik aangewys as die beste mans- en vroue-atleet.
Die swemmer Tatjana Smith, wat vier Olimpiese medaljes ingepalm het, is intussen op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings as Sportvrou en Sportster van die Jaar aangewys. Sy het uitgetree ná verlede jaar se Spele in Parys. Die fietsryer Alan Hatherly is Sportman van die Jaar, en Simoné Kruger en Mpumelelo Mhlongo Sportvrou en Sportman van die Jaar met gestremdhede. Die vier-maal-100-meter mans-aflosspan is Span van die Jaar danksy hul silwermedalje in Parys. Smith sê dit was spesiaal om die land te verteenwoordig:
# En krieket: Australië het gekeer dat die Proteas skoonskip maak deur hulle in die derde en laaste eendagwedstryd in Mackay, Queensland, met ‘n rekord 276 lopies af te ransel. Travis Head, Cameron Green en Mitchell Marsh het almal honderdtalle aangeteken en die gashere het in hul 50 boulbeurte 431 vir twee aangeteken. Cooper Connolly het daarna sy eerste vyfpaaltjie-oes ingesamel en die Proteas is uitgeboul vir 155. Dis Australië se grootste lopie-sege tuis in eendagwedstryde en tweede grootste in dié formaat. Suid-Afrika het nogtans die reeks 2-1 beklink.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….