Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Aphelele Fassi sal môre vir die Springbokke op heelagter uitdraf in die tweede Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies in Kaapstad. Dit volg nadat Willie le Roux weens ‘n besering onttrek het. Fassi, wat al in 13 toetse gespeel het, was ook verlede week in Johannesburg in die opdrafspan toe die Bokke 38-22 verloor het.
Die losvoorspeler Jean-Luc du Preez sê intussen hy sien uit daarna om alles uit te haal wanneer hy môre die eerste keer in sewe jaar in die Bokke se opdrafspan is. Die 30-jarige Du Preez staan in vir die beseerde kaptein, Siya Kolisi, en vorm die lostrio saam met die flanke Marco van Staden en Franco Mostert. Du Preez sê hy is bewus van die verantwoordelikheid wat die geleentheid meebring:
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse draaibouler Keshav Maharaj is terug boaan die wêreldranglys vir mans-eendagboulers na sy skitterspel in Dinsdag se eerste wedstryd teen Australië in Cairns. Hy het sy eerste vyfpaaltjie-oes ingesamel en die Proteas gehelp om die gasheer met 98 lopies te klop. Die 35-jarige Maharaj het Kuldeep Yadav van Indië en Maheesh Theekshana van Sri Lanka verbygesteek om die eerste keer sedert einde 2023 bo-aan die lys te wees. Aiden Markram op 21ste is die Protea se beste eendag-kolwer. Suid-Afrika is vir 277 uitgeboul in die tweede wedstryd in Mackay.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het ʼn voorlopige groep van 48 spelers aangekondig om Nigerië en Lesotho volgende maand te pak in twee Wêreldbeker-kwalifiseerders. Die middelveldspeler Sipho Mbule is een van 13 spelers van Orlando Pirates in die groep wat ook tien spelers van Mamelodi Sundowns insluit, waaronder Ronwen Williams en Fawaaz Basadien. Bongouhle Hlongwane, wat tans oorsee speel vir Minnesota United, is ook in die groep. Bafana Bafana loop met 13 punte voor in Groep C ná ses kwalifiseerders.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, behoort fiks te wees om sy Amerikaanse Ope-titel te verdedig. Hy moes Maandag handdoek ingooi tydens die eindstryd van die Cincinnati Ope teen nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, en het ook aan die Amerikaanse Ope se gemengde dubbels onttrek. Sinner se afrigter, Darren Cahill, sê hy het ‘n virus onder lede maar voel beter en hulle glo hy sal reg wees. Die laaste Grand Slam-toernooi van die jaar begin Sondag op Flushing Meadows in New York.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….