Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Suid-Afrika en Brasilië speel Sondag die heel eerste keer teen mekaar wanneer hulle kragte meet in hulle openingswedstryd van die Vroue-Wêreldbekertoernooi op Franklin’s Garden in Northampton, Engeland. Die Springbokke se veelsydige agterspeler, Nadine Roos, wat vier keer teen Brasilië gespeel het in verlede jaar se Sewes-reeks, sê die span is vasberade om vorige mislukkings te verander. Die span het hulle voorbereiding opgeskerp en Roos beklemtoon spanwerk en om Brasilië se beweegruimte naby die bal te beperk:
# Krieket: Die Proteas se wegbreek-draaibouler, Prenelan Subrayen, is aangekla van ‘n verdagte boulaksie in Dinsdag se eerste eendagwedstryd teen Australië in Cairns en sal die res van die reeks misloop. Die Internasionale Krieketraad sê die wedstrydbeamptes het hulle bekommernis uitgespreek oor die wettigheid van sy boulaksie. Die kragmeting was Subrayen se eerste eendag-internasionale wedstryd. Hy het tien boulbeurte afgestuur en die paaltjie van Travis Head ingepalm. Subrayen sal ‘n onafhanklike beoordeling ondergaan by ‘n instelling wat deur die Internasionale Krieketraad geakkrediteer is.
Die Proteas kan môre in Mackay die eendagreeks beklink na Dinsdag se oortuigende oorwinning. Aiden Markram, kaptein Temba Bavuma en Matthew Breetzke se vyftigtalle het Suid-Afrika tot ‘n reusetelling van 296 vir agt geneem, waarna die draaibouler Keshav Maharaj die eerste keer in die eendag-internasionale spel vyf paaltjies platgetrek het. Die gashere is vir 198 uitgeboul. Die Proteas se toer eindig Sondag met die laaste wedstryd, ook in Mackay, nadat Australië die T20-reeks 2-1 gewen het.
# Atletiek: Oblique Seville van Jamaika het goud verower in die mans-100-meter op die Diamantliga-byeenkoms in Lausanne, Switserland, in ‘n indrukwekkende 9,87-sekondes. Die Olimpiese kampioen, die Amerikaner Noah Lyles, was tweede en die Jamaikaan Ackeem Blake en Akani Simbine van Suid-Afrika onderskeidelik derde en vierde. Keely Hodgkinson van Engeland het die vroue-800-meter in ‘n byeenkomsrekord van een-minuut-55,69-sekondes gewen, terwyl die Suid-Afrikaner Prudence Sekgodiso sesde was. Die Amerikaner Josh Hoey het die mans-800-meter in een-minuut-42,82-sekondes gewen, voor Kenia se Olimpiese kampioen, Emmanuel Wanyonyi, en Mohamed Attaoui van Spanje.
# En tennis: Die Italianers Sara Errani en Andrea Vavassori is die tweede agtereenvolgende jaar die Amerikaanse Ope-gemengde dubbelspelkampioene. Hulle het die derde-gekeurde Iga Swiatek en Casper Ruud in ‘n valbylpot verslaan op die Arthur Ashe-stadion in New York. Dit is slegs die vyfde keer dat ‘n gemengde dubbelspelspan agtereenvolgens die Grand Slam-toernooi kon wen, en slegs die tweede keer in vier dekades. Vavassori sê hy het dit geniet om in die herontwerpte gemengde dubbelspelformaat te speel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….