Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die waarnemende Springbok-kaptein, Jesse Kriel, sê hulle leiers moes ‘n voorbeeld gestel het in verlede week se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Wallabies op Ellispark, wat Suid-Afrika 38-22 verloor het. Hy voer die Bokke aan in Saterdag se herontmoeting in Kaapstad in die plek van Siya Kolisi, wat beseer is. Kriel is nie seker wat presies die probleem was nie, maar besef dit moet uitsorteer word. Afrigter Rassie Erasmus het tien veranderings aan die opdrafspan gemaak en ervare spelers soos Willie le Roux, Handré Pollard en Cheslin Kolbe teruggebring.
Nieu-Seeland sal Argentinië intussen Saterdag sonder Patrick Tuipulotu en Anton Lienert-Brown pak in hul tweede Rugbykampioenskapwedstryd in Buenos Aires. Tuipulotu het verlede naweek ‘n gesigbesering opgedoen toe die All Blacks 41-24 gewen het. Die veteraan van 56 toetse sal na verwagting sowat ses weke buite aksie wees. Lienert-Brown het ‘n hou teen die kop gekry en volg die harsingskudding-protokol. Afrigter Scott Robertson erken die verlies aan die twee ervare spelers is ‘n terugslag vir sy span.
# Gemengde gevegskuns: Die verslane Suid-Afrikaanse middelgewig-UFC-wêreldkampioen, Dricus du Plessis, gaan tyd afneem om te besin oor Sondag se geveg teen Khamzat Chimaev. Die Rus het sy 15de beroeps-oorwinning behaal toe hy Du Plessis met ‘n eenparige beslissing in Chicago oordonder het. Volgens Du Plessis se hoofafrigter, Morné Visser, stel hy nie in ‘n dadelike herontmoeting belang nie, aangesien hulle eers ‘n paar dinge moet regstel. Hy sê wanneer jy op so ‘n manier ore aangesit word, verdien jy nie ‘n onmiddellike herontmoeting nie.
# Sokker: Liverpool se vleuel, Mohamed Salah, het die Beroepsokkerspelersvereniging se manspeler van die jaar-toekenning vir ‘n rekord derde keer gewen. Die Egiptenaar het 29 doele aangeteken en met 18 gehelp toe die Reds verlede seisoen se Premierliga-titel ingepalm het. Die vereniging se vrouespeler van die jaar is Arsenal se middelveldspeler, Mariona Caldentey, wat 19 doele in al die kompetisies aangeteken het in haar eerste seisoen by die Gunners. Morgan Rogers van Aston Villa en Olivia Smith van Arsenal het onderskeidelik die mans en vroue se jong speler van die jaar-toekenning verower.
# En tennis: Die topgekeurde Jessica Pegula en Jack Draper is deur na die halfeindronde van die Amerikaanse Ope se hersaamgestelde gemengde dubbelspel-kampioenskap. Die Amerikaans-Britse paar het twee oorwinnings behaal, insluitend oor Emma Raducanu en Carlos Alcaraz. Hulle kom nou teen die derde-gekeurde Casper Ruud en Iga Swiatek te staan. Die huidige kampioene, Sara Errani en Andrea Vavassori, is ook deur die halfeindronde. Die Amerikaners Danielle Collins en Christian Harrison, wat geloot is na die onttrekking van Katerina Siniakovia en Jannik Sinner, is ook deur na die voorlaaste ronde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….