Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada sal weens ‘n besering nie in die drie eendagwedstryde teen Australië speel nie. Die 30-jarige het inflammasie in sy regter-enkel. Hy sal in Australië bly en behandeling ondergaan by die span se mediese personeel. Australië se kaptein, Mitch Marsh, het vanoggend die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen in die eerste kragmeting in Cairns. Dewald Brevis speel sy eerste eendagwedstryd vir die Proteas, wat 296 vir agt aangeteken het.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het die ervare vleuel Makazole Mapimpi opgeroep in aanloop tot Saterdag se tweede Rugbykampioenskapswedstryd teen Australië in Kaapstad. Kaptein Siya Kolisi en Kurt-Lee Arendse is op die kantlyn nadat hulle beseer is tydens verlede naweek se skok-nederlaag van 38-22 teen die Wallabies. Hulle sal na verwagting vir ‘n paar weke buite aksie wees. Daar is genoeg losvoorspelers in die groep en Erasmus het besluit om Mapimpi, met 47 toetse op sy naam, as agterlyn-dekking op te roep.
Australië verwag intussen Saterdag ‘n reuse-aanslag van Suid-Afrika nadat hulle die Springbokke in Johannesburg verneder het. Die tuisspan het ‘n voorsprong van 22-nul verkwis en die Wallabies hulle eerste oorwinning op Ellispark sedert 1963 besorg. Die Australiese slot Will Skelton sê die Bokke sal probeer om hulle tromp-op te loop en hulle moet gereed wees. Hy het ook gesê die oorwinning in die laaste toets teen die Britse en Ierse Leeus het hulle broodnodige selfvertroue gegee.
# Sokker: Bafana Bafana is uitgeskakel uit die Afrikanasies-kampioenskap na ʼn gelykopwedstryd van drie elk teen Uganda in Kampala. Ramahlwe Mphahlele, Thabiso Kutumela en Ndabayithethwa Ndlondlo het doele aangeteken om Suid-Afrika ʼn voorsprong van 3-1 te besorg, maar hulle moes laat twee strafskoppe afstaan. Uganda is die wenner in Groep C, terwyl Algerië en Suid-Afrika albei ses punte het. Bafana het egter uitgeval wat doelskoppe betref. Bafana se afrigter, Molefi Ntseki, sê hy is nogtans trots op sy spelers:
# En tennis: Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, het sy eerste Cincinnati Ope gewen nadat die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, na slegs 23 minute aan die eindstryd moes onttrek. Die Italianer was stroop-5 agter toe hy ʼn dokter ontbied het, maar hy kon nie voortgaan nie. In die vroueafdeling het die Wimbledon-kampioen, Iga Swiatek, met die Italianer, Jasmine Paolini, afgereken en haar eerste Cincinnati Ope-titel gebuit. Sy is die eerste Poolse speler in die Ope-era wat ʼn enkelspeltitel in die toernooi wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….