Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika het sy eerste beurt op 465 vir vier hervat op die tweede dag van die tweede toets teen Zimbabwe in Bulawayo nadat kaptein Wiaan Mulder gister ‘n onoorwonne dubbele honderdtal aangeteken het. Die Proteas het twee vroeë paaltjies verloor nadat hulle ingestuur is om te kolf, maar ‘n vennootskap van 184 lopies tussen Mulder en David Bedingham het die bordjies verhang. Bedingham is uit vir 82 terwyl die tiener Lhuan-dré Pretorius 78 aangeteken het. Mulder, wat vroegoggend sy 300-tal bereik het, hou die rekord van hoogste individuele telling tydens sy kapteinsdebuut in ‘n toets.
Indië het Engeland intussen met 336 lopies geklop in die tweede toets op Edgbaston om die reeks van vyf wedstryde gelykop te maak. Die gashere het ‘n reusetaak gehad om 608 lopies te jaag, maar is laatmiddag op die laaste dag uitgeboul vir 271. Akash Deep van Indië het deurgaans met die bal beïndruk en altesaam tien paaltjes ingeoes. Die derde toets begin Donderdag op Lord’s. Engeland se kaptein, Ben Stokes, sê die kolfblad was ‘n probleem vir sy span:
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê hulle is slaggereed om vanaand hulle Afrikabekertitel vir Vroue te begin verdedig teen Ghana in Marokko. Suid-Afrika, wat tweede op Afrika se ranglys is, speel in Groep C ook teen Mali en Tanzanië. Die Ghanese is terug in die kompetisie na ‘n afwesigheid van sewe jaar. Ellis sê dis ‘n taai groep, maar sy het volle vertoue in haar spelers:
# Rugby: Afrigter Les Kiss het ‘n sterk Australies-Nieu-Seelandse uitnodigingspan gekies om Saterdag in Adelaide teen die Britse en Ierse Leeus te speel. Die groep sluit in agtien toetsspelers wat gesamentlik in 300 wedstryde gespeel het. Hulle sluit in die All Blacks David Havili, Shannon Frizell en Hoskins Sotutu en die Wallabies Marika Koroibete, Pete Samu en Lukhan Salakaia-Loto. Kiss sê baie werk is agter die skerms gedoen om die span op te bou en dit is opwindend om die vordering te sien.
# En motorsport: Lando Norris van McLaren het die Britse Grand Prix gewen in sy eerste sege voor sy tuisskare. Sy spanmaat, Oscar Piastri, wat ‘n boete van tien-sekondes gekry het na omstredenheid met ʼn veiligheidsmotor, was tweede en Nico Hulkenberg van Sauber derde. Hy het in die 19de plek weggespring en die eerste keer op die Formule Een-podium verskyn. Lewis Hamilton was vierde in sy eerste wedren op Silverstone in ʼn Ferrari, en Max Verstappen van Red Bull was vyfde. Norris het Piastri se voorsprong in die bestuurderskampioenskap tot agt punte verklein.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….