Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die senter Jesse Kriel sal die Springbokke Saterdag op Loftus Versfeld teen Italië aanvoer en amptelik die 67ste kaptein word. Kriel is gekies omdat die gewone kaptein, Siya Kolisi, ‘n stywe Achilles-sening het, en daar is as voorsorgmaatreël besluit om hom uit die wedstryd te hou. Afrigter Rassie Erasmus sê Kriel sal die volle 80-minute op die veld bly en hy het daarom besluit om nie die kapteinskap vir Eben Etzebeth te gee, wat die span al voorheen aangevoer het nie. Die wedstryd begin Saterdagmiddag tien-oor-vyf.
Die Britse en Ierse Leeus se hoofafrigter, Andy Farrell, verwag intussen vandag ‘n baie taaier wedstryd teen die Reds in Brisbane nadat hulle Western Force 54-7 afgeransel het in Saterdag se eerste toerwedstryd in Perth. Farrell sê hulle moet aanpasbaar wees met nege wedstryde binne vyf weke, insluitend drie toetse teen die Wallabies. Die Reds word afgerig deur Les Kiss, wat volgende jaar oorneem by die Wallabies. Farrell sê dis ‘n skitterende span en sal altyd goed voorbereid wees waar Kiss betrokke is.
# Atletiek: Die Suid-Afrikaanse middelafstand-afrigter Samuel Sepeng sê finansiële beperkings verhoed hom om by die gouemedaljewenner oor 800-meter, Prudence Sekgodiso, aan te sluit op internasionale byeenkomste. Sy het onlangs die rekord verbeter op die Ostrava Golden Spike-byeenkoms en neem Saterdag deel aan die Diamantliga-byeenkoms in Eugene, Amerika. Sepeng het aan SABC Sport gesê hy doen afstandsafrigting ondanks uitdagings met tydsones omdat daar nie geld is vir vlugte, etes en verblyf nie, maar beklemtoon dat fisiese afrigting noodsaaklik is vir Sekgodiso se prestasie.
# Krieket: Die afrigter van die Engelse Leeus, Andrew Flintoff, sê hy het geen behoefte om Brendon McCullum op te volg as hoofbreier van die nasionale span nie. McCullum se kontrak verstryk na 2027 se Wêreldbekertoernooi in Suider-Afrika en daar word bespiegel Flintoff kan oorneem as die Nieu-Seelander besluit om te vertrek. Die gewese kaptein van Engeland het tydens sy loopbaan meer as sewe-duisend lopies aangeteken en 400 paaltjies geneem in alle formate. Flintoff sê hy bewonder McCullum, wat hy beskou as die land se beste afrigter ooit
# En motorsport: Formule Een het ‘n gebeurlikheidsplan gereed indien die konflik in die Midde-Ooste ‘n uitwerking sou hê op die wedrenne in Katar en Abu Dhabi. Iran het verlede maand missiele afgevuur op ‘n Amerikaanse Lugmagbasis in Katar, net oorkant die Golf van Iran, weens Amerika se deelname aan Israel se lugoorlog. Die voorlaaste wedren is op 30 November in Katar en die Yas Marina op 7 Desember in Abu Dhabi. F1 se uitvoerende hoof, Stefano Domenicali, sê bly in verbinding met plaaslike promotors wat die situasie monitor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….