Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met tennis: Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris is deur na die tweede ronde van Wimbledon nadat hy sy openingswedstryd teen Zizou Bergs van België gewen het. Harris se segetog oor vier stelle het net meer as vier uur geduur. Dit was uit die staanspoor ‘n hewige stryd in die eerste drie stelle. Harris het die eerste twee gewen en Bergs die derde, maar Harris het die vierde stel oorheers om die oorwinning te behaal. Hy het 23 kishoue geslaan en slegs vier dubbelfoute gemaak.
# Sokker: Fluminense van Brasilië het Inter Milan van Italië in Charlotte, Amerika, 2-0 verslaan om deur te dring na die kwarteindronde van die Klub-Wêreldbekertoernooi. ‘n Kopskoot deur German Cano het Fluminense ʼn vroeë voorsprong gegee terwyl die plaasvervanger Hercules die oorwinning laat in die tweede helfte beklink het. Fluminense is die tweede Brasiliaanse span wat die laaste agt haal nadat Palmeiras reeds sy plek in die kwarteindronde bespreek het. Die Colombiaanse vleuel, Jhon Arias, wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, sê hulle verteenwoordig nie net Fluminense nie, maar ʼn hele vasteland.
Nog sokkernuus: Die Argentynse legende Lionel Messi gaan vereer word met ‘n huldeblykwedstryd op die Spaanse reus Barcelona se ikoniese stadion, Camp Nou, sodra opknappingswerk voltooi is. Hy het byna 20-jaar lank vir die span gespeel voor hy in 2021 na Paris Saint-Germain verskuif het. Messi het 520 doele aangeteken vir Barca en 34 titels verower, insluitend tien in La Liga en vier in die UEFA-Kampioeneliga. Adjunk-president Elena Fort sê die huldeblyk moet plaasvind wanneer Camp Nou 100-persent voltooi is, en beskryf Messi as die beste speler in die klub se geskiedenis.
# Krieket: Engeland se span is onveranderd vir die tweede toets teen Indië wat môre op Edgbaston begin na hy die eerste wedstryd op Headingley gewen het. Dit beteken die snelbouler Jofra Archer kry steeds nie speelkans nie na ‘n afwesigheid van vier jaar, maar sluit vandag by die span aan. Indië het nog nooit ‘n toets in Birmingham gewen nie, met sewe nederlae en ‘n onbesliste uitslag sedert 1967. Die res van die toetse word op Lord’s, Old Trafford en die Oval in Londen beslis.
# En laastens, rugby: Twee ervare Franse spelers kan Saterdag se eerste toets teen die All Blacks in Dunedin misloop weens beserings. Die heelagter Cheikh Tiberghien en die vleuel Gabin Villiere sou na verwagting in hoofafrigter Fabien Galthie se opdrafspan ingesluit word terwyl die besoekers reeds moet klaarkom sonder talle van die spelers wat vanjaar se Sesnasies-titel help beklink het. Vyf spelers van die Top 14-finaliste, Toulouse en Bordeaux-Begles, gaan Frankryk se groep versterk wanneer hulle aansluit vir die oorblywende toetse in Wellington en Hamilton.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….