Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-slot Jean Kleyn is nie beskikbaar vir die eerste wedstryd van die tuisreeks nie nadat hy Saterdag beseer is in die span se sege van 54-7 oor die Barbarians. Hy keer terug na sy Ierse klub, Munster, om van die besering te herstel. Die Springbokke het weggespring met veldvoorbereiding vir Saterdag se eerste amptelike toets van die seisoen teen Italië op Loftus. Hulle speel ‘n week later weer teen Italië in Gqeberha voor die reeks se laaste wedstryd teen Georgië in Mbombela op 19 Julie.
Die Junior Springbokke het intussen elf drieë gedruk in hul Groep A-openingswedstryd teen Australië in Wêreldrugby se onder 20-kampioenskap in Italië. Hul afrigter, Kevin Foote, loof sy span vir hul sege van 73-17 nadat hulle Australië uitoorlê het in moeilike toestande. Die kaptein, Riley Norton, sê dit was ‘n goeie oorwinning teen ‘n uitstekende Australiese span, maar hulle fokus nou op Vrydag se wedstryd teen Engeland, wat Skotland 56-19 geklop het. Die wedstryd in Rovigo begin die aand ses-uur.
# Krieket: Skitterende boulwerk deur Wiaan Mulder, Cody Yusuf en Keshav Maharaj het die Proteas ʼn goeie voorsprong gegee op die tweede dag van die eerste toets teen Zimbabwe in Bulawayo, ondanks Sean Williams se 137. Suid-Afrika het gisteroggend sy eerste beurt gesluit op 418 vir nege en die gahseer is kort na teetyd uitgeboul vir 251. Die Proteas was teen uitskeityd op dag twee in beheer op 49 vir een. Hulle het die derde dag begin met ʼn voorsprong van 216 lopies.
# Sokker: Paris Saint-Germain het Lionel Messi se span, Inter Miami, 4-0 verpletter om die kwarteindronde van die Klub-Wêreldbekertoernooi te haal. Afrigter Luis Enrique sê dit was nogal moeilik om Miami te klop. Die Spanjaard sê PSG se spelpeil is tans uitstekend en hulle hoop om in Amerika te seëvier. Inter Miami se afrigter, Javier Mascherano, sê hy is tevrede met sy span se vertoning en voeg by Messi kon sy staal toon ondanks die nederlaag. PSG speel Saterdag teen Bayern Munich vir ʼn plek onder die laaste vier.
# En motorsport: Lando Norris het die Oostenrykse Grand Prix voor sy spanmaat Oscar Piastri weggeraap vir ‘n oorheersende McLaren-vertoning. Die Ferrari’s van Charles Leclerc en Lewis Hamilton het derde en vierde geëindig terwyl Norris die gaping op Piastri in die bestuurderskampioenskap tot 15 punte verminder het. Norris het in die voorste plek weggespring en sy derde oorwinning van die seisoen behaal. Die viermalige wêreldkampioen, Max Verstappen van Red Bull, het in die eerste ronde uitgeval na ‘n botsing met Kimi Antonelli se Mercedes toe die Italianer se bande gesluit het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….