Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus moes noodgedwonge ‘n laat verandering aan sy span aanbring vir môre se wedstryd teen die Barbarians in Kaapstad. Kaptein Siya Kolisi moes onttrek weens ‘n ligte besering en Jesse Kriel sal die span aanvoer. Erasmus het Marco van Staden in Kolisi se plek in die opdrafspan gekies, en hy sal saam met Vincent Tshituka en Jean-Luc du Preez die losvoorspelers wees. Die res van die span bly dieselfde.
# Krieket: Rassie van der Dussen voer die Proteas aan in volgende maand se driehoekige T20-reeks teen die gasheer, Zimbabwe, en Nieu-Seeland. Die gereelde kaptein, Aiden Markram, asook Ryan Rickelton, Tristan Stubbs, David Miller, Marco Jansen, Kagiso Rabada en Keshav Majaraj kry ‘n ruskans, terwyl Anrich Nortjé beseer is. Die kolwer Lhuan-dré Pretorius kan moontlik sy T20-buiging vir Suid-Afrika maak na sy indrukwekkende spel gedurende die SA20. Dis Shukri Conrad se eerste witbal-ondervinding na sy onlangse aanstelling as afrigter in al drie formate.
Nog krieketnuus: ‘n Stophorlosie-reël word in toetskrieket bekend gestel weens die jarelange probleem van stadige boulwerk. Die reël, wat reeds die afgelope jaar in witbalkrieket van krag is, dwing die veldwerkspan om met ‘n boulbeurt te begin binne ‘n minuut nadat die vorige een geëindig het. Die Internasionale Krieketraad sê ‘n elektroniese horlosie langs die veld sal van nul na 60 sekondes aftik. Vyf straflopies sal na ‘n tweede waarskuwing opgelê word, terwyl waarskuwings ná die voltooiing van 80 boulbeurte teruggestel sal word.
# Tennis: Die Tsjeg Barbora Krejcikova se verdediging van haar Wimbledon-titel hang moontlik in die weegskaal nadat ‘n dyspier-besering haar uit die Eastbourne Ope in Engeland gedwing het. Sy het onttrek voor haar kwarteindstryd teen Varvara Gracheva van Frankryk. Krejcikova is veronderstel om Dinsdag haar eerste wedstryd op Wimbledon te speel. Die 29-jarige, wat haar ander Grand Slam-titel in 2021 op die Franse Ope gewen het, kon vanjaar nog net ses wedstryde speel weens ‘n rugbesering. Die voormalige nommer twee is nou 17de op die wêreldranglys.
# En motorsport: Die McLaren-renjaers Lando Norris en Oscar Piastri hou vol dat dit hulle vrystaan om met mekaar mee te ding ondanks hulle botsing in die Kanadese Grand Prix. Norris moes onttrek nadat hy in Montreal agter-in Piastri se motor vasgery het. Piastri is tans die voorloper in die bestuurders-kampioenkap. Spanhoof Andrea Stella sê hy verwag beter oordeel van sy renjaers. Norris, wat 22 punte agter Piastri is voor die naweek se Oostenrykse Grand Prix, sê die terugvoering na Montreal was goed:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….