Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die flambojante losskakel, Sacha Feinberg-Mngomezula, hoef nie elke keer wondere te verrig op die veld nie. Die jong speler sal Saterdag teen die Barbarians die nommer 10-trui dra, met die meer ervare Manie Libbok op die bank. Die veteraan Handré Pollard speel nie hierdie week nie. Erasmus sê die 23-jarige Feinberg-Mngomezula, wat nog net agt toetse gespeel het, leer nog en moet nog balans in sy spel kry.
Dan Sheehan van Ierland sal intussen die Britse en Ierse Leeus aanvoer in sy eerste wedstryd vir die span wanneer hulle Saterdag teen Western Force speel in Perth, Australië. Die afrigter, Andy Farrell, het 13 veranderings aangebring aan die span wat verlede week in Dublin teen Argentinië verloor het. Garry Ringrose, James Lowe, Joe McCarthy en Josh van der Flier maak ook hulle buigings in die opdrafspan. Die span bestaan uit agt Ierse spelers, vier Skotte, twee Engelse en een Wallieser, Tomos Williams.
# Sokker: Mamelodi Sundowns is uitgeskakel uit die Klub-Wêreldbekertoernooi ná ‘n gelykopwedstryd sonder doele teen Fluminense in Miami Gardens, Florida. Die Suid-Afrikaanse ligakampioen moes wen om na die laaste 16 deur te dring. Sundowns is derde in Groep F met vier punte wat net een minder is as Fluminense, wat saam met Borussia Dortmund deur is na die laaste 16. Sundowns se afrigter, Miguel Cardoso, sê sy spelers kan met trots na Suid-Afrika terugkeer:
# Krieket: Die Protea mans- en vrouespanne sal in Maart volgende jaar gelyktydig meeding in Nieu-Seeland. Die mans sal teen die Swartpette speel in ‘n T20-reeks van vyf wedstryde en die vrouespan pak die White Ferns op dieselfde dae en dieselfde stadions. Die wedstryde vind plaas in Mount Maunganui, Hamilton, Auckland, Wellington en Christchurch. Krieket Suid-Afrika se direkteur van nasionale spanne, Enoch Nkwe, beskryf die dubbele reeks as ‘n opwindende stap vir Suid-Afrika se verhouding met Krieket Nieu-Seeland.
# En atletiek: Kenia se driemalige Olimpiese kampioen in die een-duisend-500-meter, Faith Kipyegon, gaan vanaand in Parys, Frankryk, probeer om die eerste vrou te word wat die myl in onder vier-minute hardloop. Nike se “Breaking4”-projek volg op die sukses van Kipyegon se landgenoot, Eliud Kipchoge, se nie-amptelike marathon van onder twee-uur. Nike glo haar gevorderde hardloopskoene, wat net 85-gram weeg, sal haar ‘n baie goeie kans gee. Kipyegon, wat deur pasaangeërs gehelp sal word, moet haar eie wêreldrekord oor die afstand in 2023 met meer as sewe sekondes verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….