Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met krieket: Die Protea-vrouespan is op pad na Australië vir ‘n geskiedkundige veelformaattoer. Dit bestaan uit drie T20’s, drie eendagwedstryde en een toets in Perth. Die eerste groep het gister vertrek en die tweede groep vlieg vandag. Suid-Afrika speel Woensdag ʼn opwarmingswedstryd en die T20-reeks begin op die 27ste in Canberra. Laura Wolvaardt, wat die Proteas sal aanvoer, sê hulle is opgewonde oor die toer:
Nog krieket: Die Paarl Royals het hulle derde agtereenvolgende oorwinning in die SA20-toernooi behaal toe hulle die Joburg Super Kings op Bolandpark in die Paarl met sewe paaltjies verslaan en ʼn bonuspunt ingesamel het. Leus du Plooy se 71 was die hoogste telling van die besoekers, wat uitgeboul is vir net 134. Die toernooi se top-bouler, Lungi Ngidi, het drie paaltjies platgetrek. Jos Buttler het daarna ʼn onoorwonne 70 van 37 balle behaal en die Royals na ʼn oorwinning gelei om hul 100-persent rekord te behou. Buttler sê die uitdaging is om aan te hou wen:
# Ons kyk na rugby: Die Springbok-losskakel Manie Libbok speel Saterdag sy 50ste wedstryd vir die Stormers wanneer die Kaapse span in ʼn Kampioenebeker-wedstryd in Parys teen Stade Francais te staan kom. Hy het sy debuut vir die Stormers in 2021 gemaak en reeds meer as 400 punte aangeteken. Die Stormers moet net twee ligapunte in die kragmeting verdien om hulle plek in die laaste 16 van die kompetisie te verseker. Hulle is tans in die tweede plek in Groep 4 na die Ierse span, Leinster.
# Vervolgens, tennis: Die wêreld-nommer-ses, Alexander Zverev, het die Slowaakse kwalifiseerder Lukas Klein verslaan en voorkom dat hy twee keer na mekaar in die tweede ronde van die Australiese Ope uitgeskakel word. Die Duitser het in vyf stelle gewen. Casper Ruud van Noorweë het die Australiër Max Purcell ook in vyf stelle verslaan. In die vroueafdeling het Iga Świątek verhoed dat sy vroeg uitval toe sy die Amerikaner Danielle Collins na ʼn taai stryd in drie stelle geklop het. Die Poolse speler sê dit was ʼn moeilike wedstryd:
# Ons sluit af met gholf: Die viermalige major-wenner Rory McIlroy sê hy het ná sy tweede plek in die Dubai-uitnodigingstoernooi verlede week ʼn kans om die Dubai Desert Classic te wen, wat vandag begin. Die wêreld se nommer twee was verlede week in die uitnodigingstoernooi op pad na ʼn oorwinning toe sy een hou oor baansyfer by die laaste putjie en Tommy Fleetwood se twee agtereenvolgende voëltjies hom gekelder het. McIlroy, wat mik vir ʼn vierde Dubai Desert Classic-trofee, sê daar is ʼn paar dinge wat hy na verlede week kan verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….