Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Prudence Sekgodiso van Suid-Afrika het die eindronde van die vroue-800-meter in ‘n byeenkomsrekord en persoonlike beste tyd van een-minuut-57,16-sekondes gewen op die Ostrava Golden Spike in die Tsjeggiese Republiek. Oratile Nowe van Botswana en die Ethiopiër Nigist Getachew was onderskeidelik tweede en derde. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Douw Smit, het tweede geëindig na die Indiese Olimpiese medaljewenner, Neeraj Chopra, in die mans-spiesgooi met ‘n afstand van 84,12-meter. Tshepo Tshite het in ‘n teleurstellende negende plek klaargemaak in die mans se duisend-500-meter.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het die vaskopstut Asenathi Ntlabakanye se toewyding geloof, wat tot sy insluiting in die nasionale span gelei het. Die 26-jarige Ntlabakanye is een van vier nuwe spelers in die Bok-groep wat die Barbarians Saterdag in Kaapstad pak. Sy ontwikkeling het intensiewe oefeninge ingesluit op die skrumafrigter, Daan Human, se plaas naby Bloemfontein, waar hy op kondisionering en tegniese skrumwerk gefokus het. Erasmus sê Ntlabakanye se toewyding het ‘n dramatiese fisieke verandering meegebring:
Stad Kaapstad verwag intussen ‘n vol Kaapstad-stadion vir die geskiedkundige kragmeting. Die wedstryd is die eerste ontmoeting tussen die twee spanne sedert 2016 en die eerste een op Suid-Afrikaanse bodem. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê meer as 40-duisend toeskouers word verwag en dit sal die verkeer beïnvloed:
# Krieket: Indië se afrigter, Gautam Gambhir, sê daar is ‘n paar gebiede waarop hulle moet verbeter voor die tweede toets teen Engeland volgende Woensdag op Edgbaston begin. Engeland se aanvangskolwer, Ben Duckett, het 149 in die tweede beurt aangeteken en hulle het die teiken van 371 bereik om die eerste toets op Headingley te wen. Indië het die eerste span geword wat ‘n toets verloor waarin vyf kolwers honderdtalle aangeteken het. Gambhir is teleurgesteld oor die manier waarop hulle verloor het:
# En fietsry: Die tweemalige Tour de France-wenner Jonas Vingegaard, sal Visma-Lease-a-Bike vir hierdie jaar se toer aanvoer. Die 28-jarige Deen het die toer in 2022 en ’23 gewen, met die veelsydige Wout van Aert wat by hom aansluit om Tadej Pogacar te probeer onttroon. Die res van die span bestaan uit Matteo Jorgenson, Simon Yates, Sepp Kuss, Tiesj Benoot, Victor Campenaerts en Edoardo Affini. Vanjaar se Tour de France begin op 5 Julie in Lille en eindig op 27 Julie in Parys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….