Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok Sewes ‘A’-span is die Rugby Afrika Seweskampioen na ‘n oortuigende oorwinning van 26-12 oor Madagaskar in die eindstryd in Mauritius. Suid-Afrika het Groep B met Burkina Faso, Zambië en Nigerië oortuigend gewen. In die kwarteindronde het hulle die verdedigende kampioen, Uganda, 26-0 geklop voordat hulle ‘n moeisame oorwinning van 19-12 oor Zimbabwe beklink het om die eindstryd te haal. Blitsbok-afrigter Philip Snyman sê hy is tevrede met die spelers se spel en die uitvoering van hul pligte:
Nog rugby: Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, het vyf nuwelinge ingesluit in sy groep van 33 vir volgende maand se drie tuistoetse teen Frankryk, met Scott Barrett wat terug is as kaptein. Die nuwelinge is Brodie McAlister, Ollie Norris, Fabian Holland, Du’Plessis Kirifi en Timoci Tavatavanawai. Samisoni Taukei’aho en Quinn Tupaea, wat onderskeidelik in 2023 en ’22 laas vir Nieu-Seeland uitgedraf het, is ook terug in die groep. Robertson sê hulle moes kontinuïteit en geleentheid balanseer:
# Krieket: Die Wes-Indiese Eilande se vrouespan het Suid-Afrika met ses paaltjies verslaan om die T20-reeks in Barbados gelykop te maak met een elk. Die draaiboulers Afy Fletcher en Karishma Ramharack het elkeen twee paaltjies platgetrek en Suid-Afrika is in hul 20 boulbeurte tot 113 vir ses beperk. Kaptein Hayley Matthews het daarna ‘n onoorwonne 63 van 56 balle behaal en die Windies het die teiken in die laaste boulbeurt bereik. Die bepalende wedstryd vind vanaand plaas.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz, het die Tsjeg, Jiri Lehecka, verslaan om sy tweede Queen’s Club-titel in Londen op te raap. Die 22-jarige Spanjaard spog nou met sy vyfde titel van die seisoen en 21ste van sy loopbaan. In Duitsland het Alexander Bublik van Kasakstan met die Rus, Daniil Medvedev, afgereken en die Halle Ope die tweede keer gewen. Die 27-jarige Bublik is slegs die vierde speler in die toernooi se geskiedenis van 32 jaar wat die titel meer as een keer kon wen.
# En motorsport: Die voorloper in die MotoGP-kampioenskap, Marc Márquez van Ducati, is steeds op pad na sy sewende wêreldtitel nadat hy die Italiaanse Grand Prix gewen het, sy 93ste oorwinning in al die klasse. Sy broer Alex, van Gresini Racing, het tweede geëindig met Fabio Di Giannantonio van die VR46 Racing-span derde. Brad Binder van Suid-Afrika was negende vir die KTM Factory Racing-span. Márquez, wat nou met 40 punte voorloop, sê dis spesiaal om op die Mugello-baan die eerste keer sedert 2014 te kon wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….