Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Junie) 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth sê hy is topfiks en gretig om te speel. Die 33-jarige speler het drie maande van die Verenigde Rugbykampioenskap misgeloop weens harsingskudding wat hy in Desember opgedoen het, en ‘n dyspier wat hy tydens ʼn Springbok-belyningskamp in Maart verrek het. ʼn Besering het hom ook op die kantlyn gehou in die Haaie se VRK-halfeindstryd teen die Bulle. Etzebeth sê ondanks die beserings sien hy daarna uit om weer die Boktrui aan te trek:
# Krieket: Die nuwe Wêreldtoetskampioenskap-siklus is reeds onderweg, na Suid-Afrika se uitstekende oorwinning oor Australië die afgelope naweek op Lord’s. Die nuwe siklus het vandag op Headingley begin met die eerste van vyf toetse tussen Engeland en Indië. Dit is ‘n nuwe era vir Indië sonder sy legendariese staatmakers Virat Kohli en Rohit Sharma. Indië gaan probeer om die eerste keer in 18 jaar ‘n reeks in Engeland te wen. Shubman Gill is die besoekers se nuwe kaptein. Die ander vier toetse word gespeel op Edgbaston, Lord’s, Old Trafford en die Oval.
# Motorsport: Williams se Formule Een-spanhoof, James Vowles, het ‘n nuwe langtermynkontrak gesluit. Die 45-jarige Brit het in 2023 by Williams aangesluit na hy voorheen Mercedes se hoof van wedrenstrategie was. Vowles is verantwoordelik vir die span se vinnige opgang. Williams is nou vyfde in die vervaardigerskampioenskap met 55 punte na tien wedrenne – meer punte as in die vorige drie seisoene saam. Voorsitter Matthew Savage sê Vowles se ondervinding en strategiese leierskap help om die span weer een van die bestes te maak.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een en verdedigende kampioen, Jannik Sinner, is uitgeskakel op die Halle Ope in Duitsland. Die Italianer is onkant betrap deur nommer-45 op die wêreldranglys Alexander Bublik van Kasakstan, wat hom verslaan het in sy grootste nederlaag sedert Augustus 2023. Die wêreld-nommer-drie van Duitsland, Alexander Zverev, het die Italianer Lorenzo Sonego geklop om die kwarteindronde die sesde keer te haal. Die Rus Andrey Rublev het teen Tomas Martin Etcheverry van Argentinië verloor terwyl sy landgenoot, Karen Khachanov, met die Kanadees, Felix Auger-Aliassime afgereken het.
# En ten slotte: Kirsty Coventry, wat Maandag oorneem as president van die Internasionale Olimpiese Komitee, sê sy beskou samewerking met belanghebbendes as die belangrikste deel van haar ampstermyn. Die voormalige swemkampioen van Zimbabwe is in Maart verkies om Thomas Bach van Duitsland op te volg. Die 41-jarige is die IOK se eerste vroulike president. Coventry sê dis belangrik om na almal se menings te luister, maar sy verstaan sy moet besluite neem en verantwoordelikheid aanvaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….