Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Mamelodi Sundowns het hulle veldtog in die Klub-Wêreldbekertoernooi afgeskop met ‘n oorwinning van 1-0 oor Ulsan HD van Suid-Korea in Orlando, Florida. Iqraam Rayners se doel in die 36ste minuut en doelwagter Ronwen Williams wat twee doelskietpogings gefnuik het, het die oorwinning aan die huidige PSL-kampioen besorg. Sundowns is nou bo-aan Groep F nadat die Bundesliga-klub, Borussia Dortmund, gelykop gespeel het met nul elk teen die Brasiliaanse klub Fluminense in New Jersey. Sundowns se volgende groepswedstryd is Saterdag teen Dortmund.
# Krieket: Die Protea-vroue het die Wes-Indies ingevolge die Duckworth-Lewis-Stern-metode met 166 lopies verslaan in die derde en laaste eendagwedstryd in Barbados en die reeks met 2-1 beklink. Tazmin Brits het 101 lopies aangeteken in Suid-Afrika se beurt, wat weens reën verkort is. Die besoekers se telling was 278 vir ses na 45 boulbeurte en vier balle, waarop hulle die gasvroue uitgeboul het vir 121 – nie naby die hersiene teiken van 294 nie. Masabata Klaas het gespog met ‘n loopbaanbeste van vier paaltjies vir 25 lopies in ses boulbeurte.
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus het Leicester se skrumskakel, Jack van Poortfliet, opgeroep as dekking vir die Ierse speler, Jamison Gibson-Park, wat ‘n geringe besering opgedoen het. Hoofafrigter Andy Farrell het ‘n aantal spelers gevra om die Leeus by te staan met voorbereiding vir hulle opwarmingswedstryd teen die Pumas voor hulle toer in Australië omdat baie spelers betrokke was by die eindstryde van die Premierskap en die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Leeus speel Vrydag in Dublin teen Argentinië en die toer begin volgende Saterdag in Perth teen Western Force.
# Motorsport: Kanada gaan ‘n Formule Een Grand Prix aanbied tot minstens 2035. Dit volg nadat die sport ‘n verlenging onderteken het met Kanada en Quebec vir ‘n wedren in Montreal, wat sy eerste Grand Prix in 1978 gehou het. Die wedren was in gedrang nadat F1 se uitvoerende hoof, Stefano Dominicali, verlede jaar ‘n streng waarskuwing uitgereik het na klagtes oor organisering en logistiek. Sondag het alles seepglad verloop en die ooreenkoms, wat tot 2031 sou duur, is met nog vier jaar verleng.
# En ten slotte, atletiek: Die wêreld se vinnigste man, Usain Bolt, is amptelik benoem as ʼn Guinness-wêreldrekord-ikoon. Die voormalige Jamaikaanse naelloper is vereer vir sy prestasie in atletiek en omdat hy mense wêreldwyd inspireer. Sy 9,58-sekondes oor 100 meter is die vinnigste ter wêreld terwyl sy tyd van 9,63-sekondes op 2012 se Spele in Londen steeds ʼn Olimpiese rekord is. Bolt sê hy is geëerd om die toekenning te ontvang:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….