Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Die Internasionale Krieketraad het die volledige skedule vir die eendag-Wêreldbekertoernooi vir vroue uitgereik, met vyf stede reg oor Sri Lanka en Indië as gasvroue. Die gasvroue speel teen mekaar in die openingswedstryd in Bengaluru op 30 September. Die heersende kampioen, Australië, speel eerste teen Nieu-Seeland. Suid-Afrika open sy veldtog op 3 Oktober teen Engeland in Bengaluru. Drie dae later kom hulle in Indore te staan teen Nieu-Seeland, gevolg deur ‘n wedstryd teen Indië op 9 Oktober.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se afrigter, Miguel Cardoso, glo die Klub-Wêreldbekertoernooi in Amerika is die ideale vlak om hulself te toets. Sundowns is in Groep F saam met Ulsan HD van Suid-Korea, die agtmalige Bundesliga-kampioen, Borussia Dortmund, en Fluminense van Brasilië. Hulle skop hul veldtog môre teen Ulsan af. Cardoso sê om verder as die groepfase te vorder, sal ‘n ongelooflike prestasie wees:
# Rugby: Die Nieu-Seelandse losvoorspeler Ardie Savea gaan volgende jaar weer vir Kobelco Kobe Steelers in Japan speel nadat hy ‘n sabbatsverlof-klousule in sy kontrak geaktiveer het. Kobe het vanjaar vyfde geëindig in Japan Rugby se eerste liga – 20 punte agter die kampioen, Toshiba Brave Lupus. Savea sal vanjaar in aanmerking kom vir die All Blacks se toetse teen Frankryk en die toetse in Julie volgende jaar. Nieu-Seeland Rugby sê sabbatsverlof bied buigsaamheid om die mees senior spelers geleentheid te gee om in verskillende omgewings te speel.
Nog rugbynuus: Engeland se voormalige kaptein, Owen Farrell, sluit met ʼn tweejaar-kontrak weer by Saracens aan. Dit volg nadat hy ʼn jaar lank vir die Franse span, Racing 92, uitgedraf het. Hy het in 17 wedstryde vir hulle gespeel, een drie gedruk en 41 punte aangeteken. Farrell se terugkeer na Saracens beteken hy is beskikbaar om gekies te word vir Engeland se komende toer na Argentinië. Hy sê Saracens is sy tuiste en hy is uiters opgewonde om terug te wees.
# En laastens, gholf: Die vyfmalige major-kampioen, Rory McIlroy, is die eerste speler wat outomaties gekwalifiseer het vir kaptein Luke Donald se Span Europa vir vanjaar se Ryder-bekerkompetisie. McIlroy, van Noord-Ierland, het sy plek verseker danksy vier oorwinnings sedert die Europese puntelys in Augustus geopen het. Hy sal in sy agtste agtereenvolgende tweejaarlikse Ryderbeker-kompetisie speel. Die toernooi is vir September in New York geskeduleer. Donald se span van 12 lede word saamgestel uit ses kwalifiseerders en ses kapteinskeuses.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….