Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy sal voortgaan met sy span-rotasiebeleid nadat hy verlede jaar 50 spelers in 13 toetse gebruik en 12 nuwelinge ingespan het. Erasmus het nege nuwelinge in sy groep van 55 vir die kragmeting met die Barbarians op 28 Junie en volgende maand se toetse teen Italië en Georgië. Hy sê hulle wil iets soortgelyk aan verlede jaar doen waar die senior spelers en sommige van die jonger spelers ‘n bydrae op die veld lewer:
Nog rugby: Die Eerste Afdeling van Suid-Afrika se ikoniese Curriebeker-kompetisie begin môre wanneer Oostelike Provinsie die SWD Arende in Gqeberha verwelkom, en die Griffons in Welkom teen die Valke speel. Die derde wedstryd is tussen die Luiperds en die Grens Bulhonde in Potchefstroom. Die ses spanne speel ‘n enkele ronde, waarna die halfeindstryde op die 19de Julie gespeel word en die eindstryd ‘n week later. ‘n Nuwe kampioen sal gekroon word nadat verlede jaar se wenner, Boland Kavaliers, na die Premierafdeling bevorder is.
# Gholf: Die Amerikaner JJ Spaun het vier voëltjies aangeteken vir sy telling van vier onder 66 in die eerste ronde vir ‘n voorsprong van een hou in die Amerikaanse Ope op die Oakmont-buiteklub in Pennsilvanië. Die 34-jarige speler se naaste teenstander is Thriston Lawrence van Suid-Afrika wat een hou agter hom is nadat hy ses voëltjies behaal het in ʼn ronde van 67. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, die Meesters-kampioen, Rory McIlroy, en die verdedigende kampioen, Bryson DeChambeau, kon nie op die eerste dag op dreef kom nie.
# Atletiek: Swede se Olimpiese kampioen, Armand Duplantis, het die paalspringtitel verower op die Diamantliga-byeenkoms in Oslo, Noorweë. Hy het ook ‘n nuwe byeenkomsrekord van 6,15-meter opgestel, met Emmanouil Karalis van Griekeland tweede en die Australiër Kurtis Marschall derde. Jo-Ané du Plessis van Suid-Afrika was derde in die vroue-spiesgooi, met Haruka Kitaguchi van Japan as wenner. In die 100-meter vir vroue was die Olimpiese kampioen, Julien Alfred eerste, gevolg deur Marie-Josée Ta Lou-Smith van die Ivoorkus.
# En motorsport: Red Bull se Formule Een-kampioen, Max Verstaan, moet waak teen nog strafpunte in die volgende twee Grand Prix-wedrenne in Kanada en Oostenryk. Hy is met 10-sekondes gestraf na die vorige wedren in Spanje nadat hy teen George Russell se Mercedes gebots het, wat gelei het tot nog drie strafpunte op sy F1-superlisensie. Dit het sy totaal tot 11 opgeskuif vir die 12-maande wat op 30 Junie verstryk. Nog een strafpunt sal lei tot ‘n outomatiese skorsing van een wedren.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….