Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Bulle se hoofafrigter, Jake White, is vol lof vir Leinster voor Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryd in Dublin. Hy sê die Ierse span is strate voor enige ander span. Nie een van die twee kon nog die kompetisie wen nie, en die Bulle is die derde keer in ‘n eindstryd na vier pogings. White sê Leinster se model is bewonderenswaardig:
Die Springbok-vroue het Kenia intussen 19-12 verslaan vir hulle tweede agtereenvolgende oorwinning in die Rugby Afrika-vrouebeker in Madagaskar. Die verdedigende kampioen, wat Uganda met 62-7 verpletter het in hul eerste wedstryd, het drie drieë gedruk en twee verdoel. Suid-Afrika se laaste wedstryd van die toernooi is Sondag teen die gasvroue. Die Bok-vroue se hulpafrigter, Franzel September, sê hulle het by hulle speelplan gebly:
# Krieket: Die Protea-vroue het ingevolge die Duckworth-Lewis-Stern-metode ‘n nederlaag van vier paaltjies gely teen die Wes-Indiese Eilande in die eerste eendagwedstryd in Barbados. Tazmin Brits het 57 aangeteken en Suid-Afrika het 232 vir nege in 50 boulbeurte behaal. Die gasvroue het daarna ʼn aangepaste teiken van 180 in 34 boulbeurte gejaag nadat spel deur reën onderbreek is. Hulle het die teiken bereik met twee boulbeurte oor en loop nou 1-0 voor in die reeks van drie wedstryde. Die tweede kragmeting vind Saterdag plaas.
# Sokker: Die mede-gasheer, Mexiko, is gewikkel in ‘n wedloop teen tyd om die ikoniese Azteca-stadion op te gradeer voor die openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi. Mexiko sal die eerste land wees wat die internasionale skouspel vir ‘n derde keer aanbied wanneer die toernooi op 11 Junie volgende jaar begin. Die stadion in die hoofstad, Mexikostad, word vergroot van 87- na 90-duisend sitplekke, en die opgraderings wat fokus op die wêreldbeheerliggaam Fifa se voorskrifte, sluit ook nuwe kleedkamers en groter gasvryheidsones in.
# En ten slotte, motorsport: Lance Stroll van Aston Martin is die naweek weer in aksie in die Kanadese Grand Prix. Die 26-jarige renjaer het aan die vorige wedren in Spanje onttrek om ʼn mediese prosedure te ondergaan ná pyn in sy hand en gewrig. Die span sê die pyn het verband gehou met ʼn prosedure wat hy voor 2023 se seisoen ondergaan het nadat hy van sy fiets geval en sy gewrig beseer het. Stroll sê hy is opgewonde om agter die stuur te wees voor sy tuisskare in Montreal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….