Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, aanvaar daar sal senuwees wees in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Australië in Londen, maar verwag nie dat sy spelers onder druk sal swig soos in die verlede te dikwels met Suid-Afrikaanse spanne gebeur het nie. Sewe van die spanlede het reeds op die heiligdom van krieket, Lord’s, gespeel. Conrad sê die nuwe bal sal deurslaggewend wees en hy het snelbouler Lungi Ngidi bo Dane Paterson gekies om die meeste van daardie geleentheid te maak. Temba Bavuma het die loot gewen en Australië kolf eerste.
# Sokker: Bafana Bafana het Mosambiek maklik verslaan in ‘n internasionale vriendskaplike wedstryd op die Peter Mokaba-stadion in Limpopo. Sinoxolo Kwayiba en die plaasvervanger Ashley Cupido se doele in die tweede helfte het die sege beklink. Suid-Afrika keer in September terug na mededingende internasionale deelname wanneer hulle teen Lesotho en Nigerië te staan kom in kwalifiseerders vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi. Afrigter Hugo Broos sê hulle het beter presteer as in Vrydag se gelykopwedstryd teen Tanzanië waarin geen doele aangeteken is nie:
Nog sokkernuus: Amptenare van Amerikaanse gasheerstede vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi het die versekering gegee dat oorsese toeskouers nie bekommer hoef te wees oor visums, grensbeheer of openbare geweldpleging nie. Die toernooi, wat deur die VSA, Kanada en Mexiko aangebied word, begin vandag oor ‘n jaar. Die Amerikaanse organiseerders sê president Donald Trump se administrasie bly verbind tot die toernooi, ondanks sy grensbeleid sedert sy terugkeer na die Withuis, wat tot oproerigheid in Kalifornië gelei het. Wêreldbekerwedstryde sal in 11 Amerikaanse stede aangebied word.
# Rugby: Riley Norton lei ʼn sterk Junior Springbok Onder 20-groep in Wêreldrugby se Kampioenskap wat van 29 Junie tot 19 Julie in Italië plaasvind. Die groep sluit Phiwayinkosi Kubheka en Ian van der Merwe in wat nog nie voorheen vir die SA Onder 20’s gespeel het nie, terwyl Jaco Grobbelaar, Stephanus Linde en Jaco Williams terugkeer na die groep. Afrigter Kevin Foote sê hulle het 30 spelers gekies wat vasbeslote is om die land trots te maak met hulle prestasie op die veld en gedrag van die veld af.
# En gholf: Die verdedigende kampioen, Bryson DeChambeau, slaan saam met Xander Schauffele en José Luis Ballester af in die eerste twee rondes van die Amerikaanse Ope, wat môre begin. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, wat agtereenvolgende groot titels jaag, is saam met Collin Morikawa en Viktor Hovland in ‘n groep. Rory McIlroy speel saam met sy Ryderbeker-spanmaats Shane Lowry en Justin Rose. McIlroy sê hy sukkel met sy motivering nadat hy die Meesterstoernooi gewen het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….