Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerste na rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus slaak ‘n sug van verligting na ‘n span met baie veranderinge gesukkel het deur hul Nasieskampioenskap-wedstryd teen Skotland op Loftus. Die Bokke het wel 42-28 gewen, maar Erasmus sê die span het gewys waar die gapings is en wat geleer moet word. Hy sê dis baie lekkerder as jy wen en leer as wanneer jy verloor en leer. Hy sê hulle het geweet samehorigheid sou ‘n probleem wees met 12 spelers wat minder as tien toetse vir die Bokke gespeel het.
Die Junior Springbok-afrigter, Kevin Foote, sê intussen hulle is goed voorbereid vir vanaand se Junior Wêreldkampioenskaps-halfeindstryd teen Engeland in Tbilisi, Georgië. Hy het vier veranderings aangebring aan die span wat Wallis in hul laaste groepskragmeting gewen het, met ses voorspelers en twee agterspelers op die bank. Foote sê hulle het ‘n opwindende span en ʼn kombinasie gekies wat die beste pas by hul wedstrydplan teen ʼn baie goeie Engelse span:
# Sokker: Die Duitse afrigter Ernst Middendorp het die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging versoek om nie Hugo Broos in ‘n ander rol binne Bafana Bafana se tegniese span te behou nadat hy as hoofafrigter bedank het nie. Middendorp sê enige nuwe afrigter moet volle gesag en onafhanklikheid hê om die span te bou sonder die invloed van ‘n voorganger. Hy sê Broos moet óf as hoofafrigter aanbly óf die span heeltemal verlaat. Middendorp waarsku dat sy voortgesette teenwoordigheid die nuwe tegniese leierskap se gesag en identiteit kan ondermyn.
# Krieket: Brendon McCullum gaan na vier jaar uittree as Engeland se hoofafrigter. Dit volg na ʼn reeks swak uitslae, insluitend verlede jaar se nederlaag van 4-1 in die reeks om die As teen Australië, en talle voorvalle van die veld af. Engeland het agt van hul 12 toetse onder die 44-jarige McCullum verloor en slegs drie gewen. Hul jongste nederlaag van 2-1 was op hul tuisveld teen Nieu-Seeland. McCullum, wat steeds die mans se witbalspanne sal lei, sê hy is uiters teleurgesteld, maar baie trots op wat hulle as ʼn span bereik het.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het die tiende speler geword wat sy mans-enkelspeltitel suksesvol verdedig op Wimbledon. Die Italianer het Alexander Zverev van Duitsland in viere stelle verslaan vir sy vyfde Grand Slam-titel. Zverev, wat verlede maand die Franse Ope gewen het, wou die eerste man sedert 1968 word wat sy tweede Grand Slam-titel onmiddellik na sy eerste opraap. Sinner sê dis baie spesiaal om Wimbledon weer te wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….