Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Bafana Bafana het hulle Afrikabeker-veldtog in Ivoorkus met ‘n nederlaag afgeskop toe hulle met twee-nul teen Mali verloor het. Percy Tau het in die eerste helfte met ʼn strafskop misluk, met Hamari Traore en Lassine Sinayoko se doele wat aan Mali drie punte op die punteleer besorg het. Suid-Afrika is nou laaste in Groep E. Namibië het onverwags 2004 se kampioen, Tunisië, verslaan danksy Deon Hotto se kopskoot laat in die wedstryd. Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê daar is twee redes waarom hulle verloor het:
# Vervolgens, rugby: ʼn Rekord aantal van vyf vroue is ingesluit in SA Rugby se nasionale paneel van wedstrydbeamptes vir vanjaar. Hulle is Aimee Barret-Theron, Ashley Murray-Pretorius, Sinesipho Foloti, Giana Viljoen en Zoë Naudé. Twee mans, Eon van Zyl en Daniel Canhenga, is van die akademiepaneel na die nasionale paneel bevorder. Die bestuurder van skeidsregters, Banks Yantolo, sê hulle identifiseringsprogram in die provinsiale unies dra nou vrug terwyl hulle hard werk met moontlike topvlak-wedstrydbeamptes met intensiewe afrigting en verbetering.
# Krieket is volgende aan die beurt: Sunrisers Eastern Cape se kolwer, Jordan Hermann, sê persoonlike doelwitte het slegs betekenis as die span wen. Hy het die Sunrisers na hulle eerste oorwinning in die tweede SA20-seisoen gelei toe hulle M-I Cape Town met vier lopies op Nuweland verslaan het. Die 22-jarige Hermann het ʼn indrukwekkende honderdtal aangeteken en die besoekers het 202 vir twee op die telbord geplaas. Die tuisspan is daarna beperk tot 198 vir vyf. Hermann sê hy is tevrede met sy spel:
Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes het Krieket Suid-Afrika intussen skerp gekritiseer oor die verwydering van David Teeger as die kaptein van SA se Onder-19-span. Die KSA het die besluit geregverdig deur kommer oor veiligheid en moontlike versetoptrede oor die Gaza-konflik tydens die komende Wêreldbekertoernooi. Die krieketraad voer aan hy gee voorkeur aan spelerveiligheid, gegrond op sekerheidsverslae. Karen Milner van die Joodse Raad beskou die stap as anti-semitisme en beweer Teeger se verwydering laat kommer ontstaan oor diskriminasie gegrond op godsdienstige of kulturele agtergrond.
# Ons sluit af met tennis: Die sesde gekeurde driemalige Grand Slam-finalis Ons Jabeur en die 2018-kampioen, Caroline Wozniacki, is in die tweede ronde van die Australiese Ope uitgeskakel. Die 16-jarige Rus Mirra Andreeva het Jabeur van Tunisië onkant betrap met 6-stroop, 6-2. Die Russiese kwalifiseerder Maria Timofeeva was een stel agter toe sy teruggeveg en Wozniacki van Denemarke 1-6, 6-4, 6-1 geklop het. Die wêreld nommer vier, Coco Gauff van Amerika, het haar landgenoot Caroline Dolehide, 7-6, 6-2, geklop om na die derde ronde in Melbourne deur te dring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….