Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas se aanvangskolwer, Aiden Markram, sê hulle is vol vertroue in aanloop tot die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap teen die huidige kampioen, Australië, wat Woensdag op Lord’s begin, al het Suid-Afrika ses maande laas ‘n toets gespeel. Markram sê hulle weet hoe belangrik dit is om goed te begin en vroeg in die wedstryd ʼn voorsprong te kry. Hy voeg by elke skof gaan belangrik wees:
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus het Evan Roos by die oefengroep gevoeg wat voorberei vir die komende toetse. Die 25-jarige het middel verlede jaar laas in die Groen en Goud gespeel toe hy teen Portugal in Bloemfontein uitgedraf het. Roos se insluiting vergroot nou die groep tot 55 spelers, wat gister in Johannesburg byeengekom het. Die Bokke sal hul seisoen op 28 Junie teen die Barbarians in Kaapstad afskop. Dit sal gevolg word deur agtereenvolgende toetse teen Italië in Pretoria en Gqeberha, en Georgië in Mbombela in Julie.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Samuel Simpson het sy eerste oorwinning op die Sonskyntoer behaal met sy sege in die Mopani Zambiese Ope op die Nkana-gholfklub. Hy het op 11 onder met een hou gewen ná ʼn laaste ronde van 69. Simpson se landgenoot, Herman Loubser, was tweede op tien onder. Die Suid-Afrikaners Luke Jerling, JJ Senekal en Lyle Rowe deel die derde plek op nege onder. Simpson is die tweede nuweling-wenner in hierdie seisoen se Sonskyn-toer, ná Luis Carrera van Mexiko.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, het ‘n agterstand van twee stelle uitgewis en drie kampioenskapspunte afgeweer om die Italianer Jannik Sinner in ʼn epiese Franse Ope-eindstryd te verslaan. Die 22-jarige Spanjaard het die wêreld se nommer een in vyf ure en 29 minute in vyf stelle verslaan in die langste Franse Ope-eindstryd in die geskiedenis. Alcaraz, wat die vyfde jongste speler is om vyf Grand Slam-titels te wen, sê hy het deur die hele wedstryd in homself geglo:
# En motorsport lewer nog ‘n Spaanse kampioen op: Die sesmalige MotoGP-kampioen, Marc Marquez, het sy voorsprong in die kampioenskap vergroot ná sy vierde oorwinning van die seisoen in die Aragon Grand Prix in Spanje. Sy jonger broer, Alex, was tweede en Francesco Bagnaia van Italië is derde. Die Suid-Afrikaner, Brad Binder, was in ‘n botsing en kon nie klaarmaak nie. Marquez, wat ʼn voorsprong van 32 punte bo sy broer het, sê dit was die perfekte naweek vir hom:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….