Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Die Haaie draf môre op die veld sonder hulle twee kragreuse, Eben Etzebeth en Jason Jenkins wat albei beseer is. Dit beteken hulle speel hulle halfeindstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap in Pretoria met Corné Rahl en Emile van Heerden as slotpaar. Die kaptein van die Haaie, Siya Kolisi, sê hulle verwag ‘n taai wedstryd. Hy sê hulle doel is om die soort rugby te spel wat hulle weet hulle in staat is om te speel:
En nog rugbynuus: ‘n nuwe generasie Springbokke is in goeie hande met Lwazi Zangqa van Grens wat aangewys is as die nuwe hoofafrigter van die SA Skole-span. Hy sal bygestaan word deur Cobus van Dyk van die Bulle. Die SA Skole A-span sal afgerig word deur Flash Malinga van KwaZulu-Natal, met Clinton van Rensburg van die Westelike-Provinsie as sy assistent. Zangqa van Hudson Park Hoërskool was verlede jaar die SA Skole-hulpafrigter, terwyl Van Dyk van Hoërskool Waterkloof ‘n spesialisafrigter vir beide die SA Skole- en SA Skole A-spanne in 2023 en 2024 was.
# Tennis: Die Suid-Afrikaner Kgothatso Montjane is deur na die eindronde van die Franse Ope-vroue-rolstoeldubbelspel. Die 39-jarige het saamgespan met Yui Kamiji van Japan om die nommer-een-gekeurde Manami Tanaka van Japan en die Chinees Zhenzhen Shu te verslaan. Montjane is ook deur na die enkelspel-halfeindronde na ‘n oorwinning oor die vierde-gekeurde Ziying Wang van China. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Donald Ramphadi, en sy Turkse maat Ahmet Kaplan het die Brit Andy Lapthorne en Sam Schroder van Nederland verslaan om die eindronde van die kwadrupleeg-rolstoeldubbelspel te haal.
# Krieket: Die voormalige witbal-afrigter, Rob Walter, is vir die volgende drie jaar aangewys as Nieu-Seeland se nuwe mansafrigter in alle formate. Hy het die Proteas na die halfeindrondes van die 2023-Wêreldbeker vir eendagreekse en die 2025-Kampioenetrofee gelei, en in 2024 na die T20-Wêreldbeker-eindstryd. Sy kontrak duur tot ná die T20-Wêreldbeker in 2028. Walter sê dis ‘n wonderlike geleentheid vir hom:
# En ten slotte: Padwedlope: Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het sy volle ondersteuning beloof aan die 437 polisiebeamptes wat Sondag aan die Comrades-marathon deelneem. Die groep sluit in 66 vroue en 371 mans. Meer as 80 lande sal by in die afdraande-wedloop van sowat 89 kilometer van Pietermaritzburg na Durban verteenwoordig word. ʼn Polisiewoordvoerder, Nonkululeko Phokane, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens is verbind tot sy lede se gesondheid en welstand:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….