Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het dieselfde 54 spelers wat verlede maand die tweede nasionale oefenkamp in Kaapstad bygewoon het, in sy finale groep vir die begin van die internasionale seisoen opgeneem. Die sesisoen skop op 28 Junie teen die Barbarians af. Daar is 31 wêreldbeker-spelers in die groep asook nege sonder enige toetservaring. Hulle is Marnus van der Merwe, Neethling Fouché, Asenathi Ntlabakanye, Cobus Wiese, Renzo du Plessis, Vincent Tshituka, Juarno Augustus, Ethan Hooker en Ntokozo Makhaza.
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport sê Kagiso Rabada se skorsing van een maand vroeër vanjaar was nadat hy positief getoets het vir kokaïen. Die Protea-snelbouler het in April teruggekeer van die Indiese Premierliga by Gujarat Titans en onthul hy het nie ‘n dwelmtoets geslaag nie. Die instituut sê Rabada is in Januarie getoets en Benzoylecgonine, ʼn metaboliet van kokaïen, is opgespoor. Die 30-jarige speler sal volgende week die Proteas se boulaanval lei in die Wêreld-toetskampioenskap se eindstryd teen Australië op Lord’s.
# Sokker: Bafana Bafana het ʼn 1-0-nederlaag teen Mosambiek gely in hul COSAFA-beker Groep A-aanvangswedstryd in Mangaung. Antonio Sumbane het die wedstryd se enigste doel in die 74ste minuut aangeteken en drie punte vir sy span verdien. Suid-Afrika se volgende kragmeting is Saterdag teen Zimbabwe, wie se wedstryd teen Mauritius gelykop geëindig het sonder doele. Afrigter Vela Khumalo, wat vir hierdie toernooi in beheer van Bafana Bafana is, sê hulle het oor die algemeen goed gespeel:
# Tennis: Die driemalige kampioen, Novak Djokovic, en die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner gaan in die Franse Ope se halfeindronde kragte meet. Die 38-jarige Serwiër het verlede jaar se finalis, Alexander Zverev van Duitsland, verslaan in sy poging om die rekord te verbeter met ʼn 25ste Grand Slam-titel. Sinner het gemaklik afgereken met Alexander Bublik van Kasakstan, en die eerste Italiaanse man geword wat ses Grand Slam-halfdeindrondes haal. Djokovic verwag ʼn taai stryd teen Sinner:
# En ten slotte gholf: Die wêreld se nommer een, Scottie Scheffler, het sy plek in die Amerikaanse Ryderbeker-span van 2025 verseker en hy is die eerste outomatiese kwalifiseerder vir die tweejaarlikse kompetisie wat by Bethpage Black in Long Island, New York, plaasvind. Dit is die 28-jarige se derde agtereenvolgende Ryderbeker-verskyning. Vyf ander kwalifiseerders, plus ses spelers wat deur die VSA-kaptein, Keegan Bradley, gekies is, sal hulle by Scheffler aansluit. Hy sê hy sal alles in sy vermoë doen om die span te help om weer die beker van die Europese span te herower.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….