Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Padwedlope: Die eThekwini-munisipaliteit sê hy is druk besig om gereed te maak vir die 98ste Comrades-marathon, wat een van die grootste sportgeleenthede op die Suid-Afrikaanse kalender is. Meer as 80 nasies word Sondag verteenwoordig wanneer die 89 kilometer van Pietermaritzburg na Durban aangedurf word. Die munisipaliteit se woordvoerder, Gugu Sisilana, sê hulle werk hard om ‘n skoon, veilige en verwelkomende omgewing oor die hele roete te verseker:
# Sokker: Die afrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis, sê hulle fokus nou op voorbereidings vir die Afrika-beker vir Vroue wat volgende maand in Marokko gespeel word. Suid-Afrika is as kampioene van die Drienasies-reeks gekroon nadat hulle Zambië met 2-0 in die Lucas Moripe-stadion in Pretoria verslaan het. Banyana het die toernooi onoorwonne afgesluit en vyf doele aangeteken terwyl hulle slegs twee afgestaan het. Ellis sê hulle het met WAFCON in gedagte, verskillende kombinasies in die toernooi getoets:
# Krieket: Protea-hoofafrigter Shukri Conrad het berigte verwerp dat sy aanstelling as Suid-Afrika se witbal-afrigter enigiets met Heinrich Klaasen se uittrede te doen het. Conrad is verlede maand aangestel as die Protea-afrigter vir alle formate. Dis ʼn maand nadat Klaasen, selfs nie eens as witbalspeler, nie ingesluit is by Krieket Suid-Afrika se sentrale kontraklys nie. Conrad sê Klaasen het lank voor hy aangestel is KSA se aanbod vir ʼn volle kontrak van die hand gewys. Hy sê dis jammer om ʼn speler van Klaasen se kaliber te verloor.
# Krieket: Nieu-Seeland se hoofafrigter, Gary Stead, tree ná sewe jaar uit wanneer sy kontrak aan die einde van die maand verstryk. Die 53-jarige Stead word wêreldwyd beskou as die Swartpette se suksesvolste afrigter. Sy span het in 2021 die Internasionale Krieketraad se eerste Wêreld-toetskampioenskap gewen, en verlede jaar ʼn ongekende 3-0 toetsreeks-oorwinning oor Indië behaal. Onder sy beheer het hulle ook vyf uit ses eindwedstryde in die IKR se witbal-wêreldbekerkompetisies bereik. Stead sê hy sal geleenthede tuis en oorsee verken.
# En, Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is die derde agtereenvolgende jaar deur na die Franse Ope se halfeindronde. Die 22-jarige Spanjaard het Tommy Paul van Amerika afgeransel. Hy is die jongste speler wat sewe halfeindrondes in mans-enkelspel Grand Slams haal sedert sy landgenoot, Rafael Nadal, dit in 2008 reggekry het. Alcaraz en Lorenzo Musetti sal sake uitspook vir ʼn plek in die eindstryd nadat die Italianer met Frances Tiafoe van Amerika afgereken het om sy eerste halfeindronde by hierdie kleibaan-major te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………