Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket: Protea-snelbouler Kagiso Rabada sê hy is gereed vir Australië se berugte slegsê-taktiek en voeg by dit sal hom net meer motiveer. Die twee nasies takel mekaar volgende week in die Wêreld-toetskampioenskap-eindstryd op Lord’s in Engeland. Die laaste keer wat die 30-jarige Rabada in Augustus 2022 op die heilige grond teen Engeland gespeel het, het hy vyf paaltjies platgetrek. Rabada sê hy verstaan sy belangrike rol in die groep en gee toe die Australiërs sal waarskynlik probeer om hom uit te lok, wat deel van die spel is.
# En in nog krieketnuus, die Internasionale Krieketraad het bevestig dat die 50-boulbeurt Vroue-wêreldbeker wat later vanjaar plaasvind, by vyf plekke in Indië en Sri Lanka gespeel sal word. Indië se weiering vroeër vanjaar om na Pakistan te reis vir die mans se Kampioenetrofee, het die raad gedwing om neutrale plekke te vind vir toernooie wat dié nasies aanbied. Die toernooi word in die Indiese stede Bengaluru, Guwahati, Indore en Visakhapatnam, en die Sri Lankaanse stad Colombo gespeel. Dis ‘n neutrale plek waar Pakistan al hul groepwedstryde sal speel.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Erik van Rooyen het sy plek bespreek in die 125ste Amerikaanse Ope wat volgende week by die Oakmont-buiteklub plaasvind. Die 35-jarige speler het rondes van 64 en 67 voltooi om op 13 onder 131 eerste klaar te maak by ʼn kwalifiserende toernooi by die Kinsale-gholfklub in Columbus, Ohio. Van Rooyen, ʼn tweemalige PGA-wenner, het nie die laaste drie Amerikaanse Ope-toernooie gehaal nie. Die Amerikaners Rickie Fowler en Max Homa het nie vir die major gekwalifiseer nie.
# Sokker: Banyana Banyana wil die eerste Drienasies-reeks behoorlik afsluit wanneer hulle Zambië vanmiddag op die Lucas Moripe-stadion in Pretoria takel. Suid-Afrika het Botswana verlede Woensdag met 3−2 verslaan terwyl dié land en Zambië se wedstryd die naweek gelykop geëindig het met een elk. Die reeks is ter voorbereiding van die Vroue-Afrikanasies-beker wat in Julie in Marokko plaasvind. Afrigter Desiree Ellis sê Zambië gaan ʼn taai teenstander wees:
# En ten slotte padwedlope: Suid-Afrika se ultra-marathon-ster, Gerda Steyn, sê haar doelwit is om vanjaar beide die Comrades-marathon en die Twee Oseane-marathon suksesvol te voltooi. Die 35-jarige atleet het in April in Kaapstad haar vyfde agteenvolgende oorwinning in die Twee Oseane-marathon behaal en mik nou om Sondag haar derde agtereenvolgende afdraende Comrades-marathontitel op te raap. Steyn sê sy is opgewonde oor die talent van mededingers en beskou dit as motivering om haarself tot die uiterste te druk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….