Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket: Suid-Afrika het volgens berigte die voormalige Engelse snelbouler, Stuart Broad, as konsultant aangestel voor die Wêreldtoetskampioenskap-eindstryd, wat volgende Woensdag op Lord’s teen Australië begin. Die 38-jarige Broad sal glo volgende Maandag ‘n oefensessie van die Proteas bywoon, waar hy snelboulers soos Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Marco Jansen onder hande sal neem. Die Proteas kom môre as deel van hul voorbereiding vir die eindstryd teen Zimbabwe te staan in Sussex.
En die die veelsydige Australiese krieketspeler, Glenn Maxwell, het sy onmiddelike uittrede uit internasionale eendagkrieket aangekondig. Die 36-jarige Maxwell, een van die opwindendste kolwers in die geskiedenis van die sport, het in sy 149 wedstryde drieduisend-990 lopies aangeteken, 77 paaltjies geneem en twee Wêreldbeker-titels help wen. Maxwell sal steeds deel bly van Australië se T20-groep om ‘n oorwinning in volgende jaar se kortvorm-Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka te help verseker.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is deur na die Franse Ope se kwarteindronde nadat hy die Amerikaner, Ben Shelton, geklop het. Die Spanjaard kom teen nog ‘n Amerikaner, Tommy Paul, te staan wat die Australiër, Alexei Popyrin, afgeransel het terwyl die Italianer, Lorenzo Musetti, met die Deen, Holger Rune, afgereken het. In die vroueafdeling het die verdedigende kampioen van Pole, Iga Swiatek, die laaste agt gehaal toe sy Elena Rybakina van Kazakstan geklop het. Die topgekeurde Aryna Sabalenka van Belarus het die Amerikaner, Amanda Anisimova, verslaan.
# Gholf: Maja Stark van Swede het ʼn finale ronde van 72 aangeteken om haar eerste major titel op te raap met ʼn oorwinning van twee houe by die Amerikaanse Vroue-ope by Erin Hills in Wisconsin. Die wêreld-nommer-een, Nelly Korda van Amerika, en Rio Takeda van Japan deel die tweede plek op vyf onder. Hye-Jin Choi van Suid-Korea en haar landgenoot Mao Saigo, wat agtereenvolgende major-titels wou haal, deel die vierde plek met Ruoning Yin van China. Stark sê sy het nie gedink sy kan ʼn major-titel wen nie:
# En padwedlope: Vier personeellede van die Universiteit van Pretoria is gereed om die Comrades-marathon, aan te pak om geld in te samel vir studente wat finansieel sukkel. Mense van meer as 80 lande sal aan Sondag se wedloop deelneem wat vanjaar afdraande is en oor ongeveer 89 kilometer van Pietermaritzburg na Durban strek. Die opbrengs wat Bianca Frost, Josiah Mavundla, Mfundo Nyitana en André Ganswindt sal insamel, sal na die vise-kanselier en rektor se Beursfonds gaan. Die universiteit sê dié atlete herinner almal daaraan dat enige doelwit wat die moeite werd is, tyd en uithouvermoë verg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….