Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby: Drie nuwe spelers is ingesluit in die Junior Springbokke se oefengroep vir die laaste voorbereidingskamp voor Wêreldrugby se Onder-20 Kampioenskap volgende maand in Italië. Losskakel, Ian van der Merwe, haker, Shaun Schürman, en loskopstut, Rambo Kubheka is die nuwe spelers terwyl Jaco Grobbelaar, Arno van der Merwe, Stephanus Linde, Jaco Williams en Alzeadon Felix na die groep terugkeer. Die Junior Bokke sal vir die volgende drie weke in Stellenbosch oefen voordat die groep van 30 spelers op 24 Junie na Italië vertrek.
# Rugby: Die Suid-Afrikaners Griffin Colby en Quinton Immelman is ingesluit op die lys wedstrydbeamptes vir die komende Onder 20-rugbykampioenskap in Italië. Colby sal as wedstrydskeidsregter optree terwyl Immelman as televisie-wedstrydbeampte betrokke sal wees. Die paneel sluit tien skeidsregters en vyf televisiebeamptes in. Die wêreld se 12 beste spanne sal van 29 Junie tot 19 Julie in vier Italiaanse stede wedstryde speel. Suid-Afrika is in Groep A saam met die verdedigende kampioene Engeland, Australië en Skotland.
# Sokker: Die Egiptiese klub Al Ahly het die gewese baas van Orlando Pirates, José Riveiro, as sy nuwe hoofafrigter aangestel. Die Spanjaard het toestemming gekry om sy kontrak met die Buccaneers vroeg te beïndig en hy is daar weg met 80 oorwinnings, 26 gelykopwedstryde en 26 verloorwedstryde uit ‘n totaal van 132 wedstryde. Riveiro word sommer dadelik in ‘n moeilike situasie geplaas met die FIFA-wêreldbeker wat op 14 Junie in Amerika begin. Al Ahly is Afrika se suksesvolste klub en speel in groep A saam met Inter Miami, Palmeiras en FC Porto.
# Tennis: Die driemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië het na die derde rondte van die Franse Ope deurgedring toe hy met Corentin Moutet van Frankryk afgereken het. Die derde gekeurde Duitser Alexander Zverev het ná een stel agter, die jong Nederlander Jesper de Jong geklop. Australië se Alex De Minaur, nommer nege in die wêreld, en die 19de gekeurde Tsjeg Jakub Mensik is uitgeskakel. In die vroue-afdeling is die Amerikaners Coco Gauff, Jessica Pegula en Madison Keys maklik deur na die volgende rondte.
# Krieket: Die Royal Challengers Bengaluru is deur na hulle eerste Indiese Premierliga-eindstryd sedert 2016 ná ‘n agtpaaltjie-oorwinning teen die Punjab Kings. Josh Hazlewood en Suyash Sharma het elkeen drie paaltjies platgetrek en Punjab was na 14 boulbeurte en een bal almal uit vir 101. In antwoord daarop het Phil Salt ʼn onoorwonne 56 van 27 balle behaal en RCB het die teiken bereik met tien boulbeurte oor. Punjab speel Sondag teen die wenners van vandag se wedstryd tussen Gujarat Titans en Mumbai Indians, met die wenners wat die eindstryd haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….