Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Hoewel die Haaie die Europese Uitdaagbeker gewen het, het hulle nie veel welslae behaal in die Verenigde Rugbykampioenskap nie. Hulle het verlede seisoen in die 14de plek op die punteleer afgesluit. Die Durbanse span berei voor vir Saterdag se kwarteindstryd teen die Ierse span Munster op Kingspark in Durban. Die Haaie se kaptein, die Springbok-ster Eben Etzebeth, sê hulle verwag ‘n moeilike wedstryd ondanks hulle tuisveld-voordeel:
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, is teleurgesteld met hulle vertoning teen Botswana in hul eerste wedstryd van die drienasies-reeks op die Lucas Moripe-stadion in Pretoria. Jermaine Seoposenwe se twee doele en Adrielle Mibe se een het Suid-Afrika gehelp om 3-2 te wen. Banyana Banyana kom Dinsdag op dieselfde stadion teen Zambië te staan. Ellis erken daar is ruimte vir verbetering voor die Afrikabekertoernooi vir Vroue in Marokko in Julie:
# Krieket: Australië se groep vir volgende maand se eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Suid-Afrika in Londen het met ‘n spanboukamp in die Britse hoofstad begin. Dit sal gevolg word deur gefokusde oefening voordat die wedstryd op 11 Junie op Lord’s begin. Afrigter Andrew McDonald het die afgelope tyd as ‘n deurmekaar gemors beskryf met sommige spelers wat tuis was en ander wat graafskapskrieket gespeel het, terwyl die weeklange opskorting van die Indiese Premierliga ook ‘n invloed gehad het.
# Tennis: Die eerste-gekeurde Aryna Sabalenka van Belarus het na die derde ronde van die Franse Ope deurgedring met haar oorwinning oor Jil Teichmann van Switserland. Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, het die Brit Emma Raducanu maklik geklop, terwyl verlede jaar se naaswenner, Jasmine Paolini van Italië, die Australiër Ajla Tomljanovic verslaan het. In die mansafdeling het die Italianer Matteo Gigante die Griek Stefanos Tsitsipas in vier stelle uitgeskakel. Die Amerikaners Tommy Paul en Frances Tiafoe is ook deur na die laaste 32.
# En ten slotte, gholf: Die Ryderbeker-kompetisie van 2027 vind vanaf 17 September op Adare Manor in Ierland plaas, wanneer die spanbyeenkoms sy eeufees vier. Dit sal die tweede keer wees dat die land die tweejaarlikse kompetisie aanbied nadat Europa Amerika in 2006 op die K-klub in Kildare geklop het. Vanjaar se Ryderbekerkompetisie vind in New York plaas, ook in September, waar die verdedigende kampioen, Europa, weer deur die Engelsman Luke Donald aangevoer sal word. Die kapteins vir 2027 is nog nie bevestig nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….