Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Stormers is nie angstig oor die afwesigheid van die ervare Springbok-agterspeler Damian Willemse vir Vrydagaand se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen Glasgow Warriors in Skotland nie. Willemse is vir drie wedstryde geskors vir sy rooikaart teen Cardiff, wat tot twee verminder kan word as hy Wêreldrugby se sogenaamde duiktegniekskool bywoon. Voorspeler-afrigter Rito Hlungwani sê die span het die afgelope paar weke baie verbeter na hulle die seisoen swak afgeskop het, en maak nie staat op net een buitengewoon begaafde speler nie.
Edinburgh se Suid-Afrikaans-gebore Skotse vleuel, Duhan van der Merwe, is intussen terug na ‘n langtermyn-enkelbesering en kan teen die Bulle speel in Saterdag se kwarteindstryd in Pretoria. Hy het gister saam met sy spanmaats na Suid-Afrika gevlieg. Van der Merwe sal ook vanjaar weer die Britse en Ierse Leeus verteenwoordig nadat hy in 2021 saam met die span na Suid-Afrika gereis het. Edinburgh se afrigter, Sean Everitt, beskryf hom as ‘n speler van wêreldgehalte wat ‘n rykdom van ervaring na die span bring.
# Branderry: Die Suid-Afrikaner Jordy Smith het sy tweede oorwinning van die seisoen behaal op die Margaret River Pro in Australië en daarmee die hoogste posisie op die Wêreldliga-puntelys beklink. Hy het die beoordelaars beïndruk met sterk bewegings en golfbestuur en sy Amerikaanse mededinger Griffin Colapinto oorheers. Die 37-jarige Smith sê hy is opgewonde oor die komende ronde in Kalifornië en sy verwagting vir die kampioenskap is hoog:
# Krieket: Die Protea Vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, sal vir nog twee jaar beskikbaar wees vir Adelaide Strikers in Australië se Vroue-Big Bash-liga. Sy het haar kontrak verleng na vyf seisoene waartydens sy een-duisend-726 lopies aangeteken het. Die 26-jarige Wolvaardt sê die span het haar tweede tuiste geword, en sy is opgewonde en vasbeslote om hulle te help om meer sukses te behaal. Die span het die titel in 2022 en 2023 gewen, maar verlede jaar sewende geëindig. Vanjaar se kompetisie begin in November.
En nog krieket: Royal Challengers Bengaluru speel môre teen die eerste span op die Indiese Premierliga-punteleer, Punjab Kings, in die eerste kwalifiseerder na hulle oorwinning van ses paaltjies oor Lucknow Super Giants in die laaste groepswedstryd. Rishabh Pant se onoorwonne 118 van 61 balle het Lucknow gevoer tot 227 vir drie in hulle 20 boulbeurte. Die waarnemende kaptein, Jitesh Shamra, se 85 het RCB daarna gehelp om die teiken te haal met agt balle oor. Dis die derde hoogste suksesvolle lopie-jaagtog in die geskiedenis van die toernooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….