Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Die DA het kalmte en eenheid versoek voor Atletiek Suid-Afrika se verkiesing op Saterdag. Dit volg nadat ASA se president, James Moloi, polisieteenwoordigheid versoek het, wat die party sê dui op diepgaande wanfunksionaliteit en onbestendigheid binne die federasie. Joe McGluwa van die DA sê die voortdurende binnegevegte, regsdreigemente en onttrekking van belangrike provinsiale benoemdes weerspieël swak bestuur wat die prestasies van atlete oorskadu:
# Krieket: Die hoofafrigter van die Protea-vrouespan, Mandla Mashimbyi, sê hy is baie opgewonde om Marizanne Kapp, Tumi Sekhukhune en Ayanda Hlubi terug te hê. Die drietal is deel van die groep vir volgende maand se witbaltoer na die Wes-Indiese Eilande wat bestaan uit drie eendagwedstryde en drie T20’s. Kapp het die eendagreeks in Sri Lanka misgeloop. Mashimbyi sê dis goed vir die span om ‘n ervare speler soos sy te hê:
# Krieket: Punjab Kings het Mumbai Indians met sewe paaltjies geklop wat aan hulle ‘n eerste of tweede plek in die Indiese Premierliga waarborg voor die uitspeelwedstryde. Mumbai het 184 vir sewe in hulle 20 boulbeurte behaal. Josh Inglis en Priyansh Arya het daarna ‘n vennootskap van 109 lopies van 59 balle om die tweede paaltjie gemoker en Punjab het die teiken behaal met nege balle oor. Hulle speel in Donderdag se kwalifiseerder teen Royal Challengers Bengaluru of Gujurat Titans.
# En tennis: Die Spanjaard Carlos Alcaraz het die verdediging van sy Franse Ope-titel begin met ‘n oorwinning oor die Italiaanse kwalifiseerder, Giulio Zeppieri, om die tweede ronde te haal. Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, het met die Fransman Arthur Rinderknech afgereken terwyl 2021 se naaswenner, Stefanos Tsitsipas van Griekeland, die Argentyn Tomas Martin Etcheverry verslaan het. In die vroueafdeling het die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, die Slowaak, Rebecca Sramková geklop. Die Brit Emma Raducanu en die Amerikaner Madison Keys het ook hul wedstryde gewen.
En ten slotte: Dit het nie lank geneem vir T-hemde ter ere van Rafael Nadal om die swartmark te tref nie. Die organiseerders van die Franse Ope het 10-duisend baksteenrooi T-hemde met die woorde “Merci Rafa” uitgedeel vir Sondag se afskeidseremonie van die 14-malige Spaanse kampioen op Roland Garros, wat ‘n dramatiese agtergrond vir die emosionele geleentheid gevorm het. Baie van die T-hemde is egter sedertdien te koop aangebied vir tussen drie- en tien-duisend-rand. Die Franse Tennisfederasie is teleurgesteld omdat mense probeer geld maak uit die geskiedkundige geleentheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….