Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Die Suid-Afrikaner Akani Simbine bly vanjaar onoorwonne in die 100-meter nadat hy sy derde Diamantliga-sege van die jaar in Rabat, Marokko, behaal het. Hy het in 9,95-sekondes voor Ferdinand Omanyala van Kenia en die Amerikaner, Fred Kerley, oor die wenstreep genael. Simbine se landgenoot, Zakithi Nene, het ʼn sterk vertoning in die mans-400-meter gelewer en tweede geëindig. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Prudence Sekgodiso, moes ook tevrede wees met ʼn tweede plek in die 800-meter vir vroue. Simbine sê hy voel goed en vol vertroue:
# Rugby: Bordeaux-Begles se vleuel, Damian Penaud, is as die Europese Speler van die Jaar gekroon nadat sy span Northampton Saints in Cardiff geklop het om die Kampioenebeker te wen. Hy het twee van sy span se vier drieë gedruk in hulle oorwinning van 28-20. Penaud is die derde Fransman wat die toekenning wen na Antoine Dupont en Gregory Alldritt. Hy het ‘n sleutelrol gespeel in sy span se eerste titel in die kompetisie, en 14 drieë in agt wedstryde gedruk – ses hiervan teen die Haaie in die ligafase, die meeste drieë wat in ‘n wedstryd gedruk is.
# Motorsport: McLaren se renjaer, Lando Norris, het stof in Charles Leclerc van Ferrari se oë geskop om sy eerste Monaco Grand Prix te wen. Die Brit het die nuwe verpligte twee band-ruilings vir die wedren goed hanteer vir sy eerste oorwinning sedert die seisoen se eerste wedren in Australië. Sy spanmaat Oscar Piastri was derde, Max Verstappen van Red Bull vierde en Lewis Hamilton van Ferrari vyfde. Norris, wat Piastri se voorsprong boaan die bestuurderskampioenskap tot drie punte verminder het, sê dis belangrik om konsekwent wees:
# Tennis: Die wêreld se voorste speler, Aryna Sabalenka van Belarus het haar Franse Ope-veldtog op ‘n hoë noot begin deur Kamilla Rakhimova van Rusland te verslaan om na die tweede ronde deur te dring. Die Italianer Jasmine Paolini het Yuan Yue van China geklop. Die gewese tweede beste speler ter wêreld, die Tsjeg Petra Kvitova, is uitgeskakel. In die mans-afdeling het die Amerikaner Ben Shelton vir Lorenzo Sonego van Italië getroef. Frances Tiafoe van Amerika en die Italianer Lorenzo Musetti is ook deur.
En die veertienmalige Franse Ope-wenner, Rafael Nadal, is vereer met ‘n emosionele afskeidseremonie op die Philippe-Chatrier-hoofbaan in Parys. Die Spanjaard het die kleibaantoernooi oorheers sedert sy eerste titel in 2005 tot sy rekord 14de in 2022. Sy jarelange mededingers, Roger Federer van Switserland, Novak Djokovic van Serwië en Andy Murray van Skotland, het by hom op die baan aangesluit om hulde te bring. Nadal, wat 112 wedstryde op Roland Garros gewen en slegs vier verloor het, sê dit was die perfekte afskeid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….