Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbokke het vandag hul tweede en laaste belyningskamp vir die internasionale seisoen in Kaapstad begin. Ses-en-dertig 36 spelers woon die kamp fisies by en 18 oorsese spelers sluit virtueel aan. Suid-Afrika se eerste toets van die jaar is op 28 Junie teen die Barbarians in Kaapstad. Dit word gevolg word deur toetse teen Italië in Pretoria en Gqeberha, en een teen Georgië in Mbombela voor die aanvang van die Rugbykampioenskap teen Argentinië, Australië en die All Blacks.
Wêreldrugby se raad het intussen die wêreldwye proeflopie van die 20-minute-rooikaart goedgekeur, ondanks weerstand van verskeie internasionale unies, insluitend Frankryk en Ierland. Die kaart is die afgelope seisoen in die noordelike halfrond getoets. Die reël laat toe dat ‘n speler wat vir ongeoorloofde spel gestraf is, ná 20 minute deur ‘n ander speler vervang kan word. Die speler wat afgestuur is, kan nie weer in die wedstryd speel nie. ‘n Besluit oor die permanente aanvaarding van die wet sal volgende jaar geneem word.
# Krieket: Mumbai Indians het Delhi Capitals met 59 lopies verslaan vir ‘n plek in die Indiese Premierliga se uitspeelrondes. Suryakumar Yadav het ‘n onoorwonne 73 van 43 balle behaal en Mumbai het 180 vir vyf in hul 20 boulbeurte aangeteken. Mitchell Santner en Jasprit Bumrah het daarna met die bal beïndruk en elkeen drie paaltjies platgetrek, en Delhi is vir 121 uitgeboul met tien balle oor. Mumbai sluit nou in die uitspeelrondes aan by Gujarat Titans, Royal Challengers Bengaluru en Punjab Kings.
# Sokker: Tottenham Hotspur het Manchester United 1-0 geklop in Bilbao, Spanje, om die Europaliga-eindstryd te wen. Brennan Johnson se doel in die eerste helfte was bepalend en Tottenham het sy eerste trofee in 17-jaar gewen. Ange Postecoglou se span kwalifiseer daarmee vir volgende seisoen se Kampioeneliga. United sal volgende seisoen aan geen Europese kompetisies deelneem nie – die tweede keer sedert Engelse klubs in 1990 weer by die beheerliggaam UEFA toegelaat is.
# En ten slotte: Die Internasionale Olimpiese Komitee het sy vertroue uitgespreek dat die organiseerders op die regte pad is om 2032 se Spele in Brisbane, Australië, aan te bied. Die IOK se aangewese president, Kirsty Coventry, het vandag die derde Brisbane 2032-koördineringsvergadering bygewoon. Die hoof van die plaaslike reëlingskomitee, Andrew Liveris, sê dis ʼn groot verligting om uiteindelik ʼn plan gereed te hê, selfs al begin bouwerk aan die groot nuwe stadions eers einde volgende jaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….