Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Suid-Afrika het Marokko in Kaïro, Egipte, 1-0 geklop om die eerste keer die Onder 20-Afrika-bekertoernooi te wen. Gomolemo Kekana se doel in die 70ste minuut het Amajita sy heel eerste titel van die vasteland besorg. Suid-Afrika het die toernooi ook afgesluit met belangrike individuele toekennings. Tylon Smith is aangewys as beste speler en Fletcher Lowe as beste doelwagter nadat hy 24 doele afgeweer het. Nigerië is derde nadat hy die gasheer, Egipte, met vier strafdoele teen een verslaan het.
# Gholf: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, het sy derde groot titel ingepalm deur die Amerikaanse PGA-kampioenskap op Quail Hollow die eerste keer te wen. Die Amerikaner se oorwinning met vyf houe is die grootste in die kampioenskap ná die Ier Rory McIlroy se sege van agt houe in 2012. Die Amerikaners Bryson DeChambeau, Davis Riley en Harris English was saam tweede op ses onder baansyfer. McIlroy het in ‘n gesamentlike 47ste plek geëindig. Scheffler sê dit was ‘n moeilike oorwinning:
# Motorsport: Max Verstappen van Red Bull het die Emilia-Romagna Grand Prix in Imola, Italië, gewen vir sy tweede oorwinning die seisoen. Die Nederlander het die McLaren-renjaer Oscar Piastri in die eerste ronde verbygesteek en die wedren oorheers. Lando Norris het tweede geëindig voor sy spanmaat, Piastri, terwyl Lewis Hamilton van Ferrari en Alex Albon van Williams vierde en vyfde was. Die uitslag beteken dat Piastri se voorsprong oor Norris boaan die punteleer tot 13 verminder word, terwyl Verstappen net 22 punte agter die Australiër is.
# Tennis: Die 22-jarige Carlos Alcaraz van Spanje het die eerste Italiaanse Ope van sy loopbaan en sy derde titel vanjaar gewen toe hy die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, 7-6, 6-1 geklop het vir sy sewende ATP Meesters-een-duisend-titel. Jasmine Paolini het Saterdag die Amerikaner Coco Gauff verslaan en die eerste plaaslike vroue-enkelspelkampioen in 40-jaar geword. Alcaraz sê dis altyd ‘n taai stryd wanneer hy en Sinner kragte meet:
# En rugby: Moana Pasifika se speler, Ardie Savea, het Super Rugby Pacific se eerste Speler van die Jaar-toekenning gewen waarvoor klubkapteins en afrigters stem. Die All Black-losvoorspeler het hierdie seisoen tien keer vir Moana uitgedraf, vyf drieë gedruk, 110 duikslae uitgevoer en 15 keer omkeerbesit bewerkstellig. Super Rugby Pacific se uitvoerende hoof, Jack Mesley, sê Savea se passievolle leierskap en oorheersende vertonings het ʼn onuitwisbare merk gelaat op sy spanmaats, sy teenstanders en die hele kompetisie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….