Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Suid-Afrika is die eerste keer in 28 jaar deur na die eindstryd van die Onder 20-Afrikabekerkompetisie nadat hulle Nigerië in Ismailia, Egipte, 1-0 verslaan het. ‘n Kophou deur Tylon Smith in die 66ste minuut het die sege beklink. Die uitslag beëindig Nigerië se hoop op ʼn agste agtereenvolgende AFCON-titel. Amajita kom Sondagaand in die eindstryd teen Marokko te staan nadat hulle Egipte in hulle halfeindstryd 1-0 geklop het. Die Suid-Afrikaanse Onder 20-span gaan hul eerste vastelandse titel probeer opraap.
# Krieket: Daar is meer as net roem op die spel in volgende maand se eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap tussen Suid-Afrika en Australië in Londen. Die Internasionale Krieketraad het ’n groot verhoging in prysgeld aangekondig: die wenspan sal meer as 65-miljoen-rand ontvang en die verloorspan byna 38-miljoen-rand – meer as wat Australië twee jaar gelede as kampioen ontvang het. Die IKR sê die verhoging wys dat hulle probeer om voorkeur te gee aan die langste formaat van die spel. Die wedstryd word vanaf 11 Junie op Lord’s gespeel.
# Rugby: Die Springbok-staatmaker Manie Libbok keer terug van ’n lang besering en dra die Stormers se nommer tien-trui in hulle laaste Verenigde Rugbykampioenskaps-ligawedstryd Saterdag teen die Walliese span Cardiff in Kaapstad. Hy neem oor by sy jong nasionale spanmaat, Sacha Feinberg-Mngomezulu, wat op die bank begin. Damian Willemse skuif van senter na heelagter waar hy Warrick Gelant vervang, wat ‘n ruskans kry. Suleiman Hartzenberg en Leolin Zas is die vleuels.
# Rugby: Die 27-jarige slot Anathi Qolo sal die Springbok-vroue na Madagaskar lei, waar hulle volgende maand hulle Rugby Afrika-vrouebeker-titel verdedig. Die drie toetse sal onderskeidelik op 7, 11 en 15 Junie teen Uganda, Kenia en die gasvroue gespeel word op die Stade Makis in Antananarivo. Die Springbok-vroue se prestasie-afrigter, Swys de Bruin, sê Qolo sal ‘n groep lei wat 12 nuwe spelers insluit:
# En gholf: Jhonattan Vegas van Venezuela het sewe onder 64 aangeteken in die eerste ronde van die Amerikaanse PGA-kampioenskap in Noord-Carolina – twee houe voor die Amerikaner Ryan Gerard en die Australiër Cam Davis. Die Meesterskampioen, Rory McIlroy van Noord-Ierland, het foute begaan en is tien houe agter die voorloper. Die Suid-Afrikaner Garrick Higgo, die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika, en sewe ander is saam 20ste op twee onder baansyfer. Vegas sê dit was ʼn ongelooflike begin:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….