Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met sokker: Mamelodi Sundowns is as die Premier-sokkerliga se 2024/2025-kampioen gekroon nadat hy Chippa United op die Buffalo City-stadion in Oos-Londen 3-0 afgeransel het. Arthur Sales se twee doele en een van Iqraam Rayners het Masandawana se sege oor United beklink, en hul agste agtereenvolgende en 15de algehele titel. Die oorwinning beteken ook hulle eindig hul derde opeenvolgende seisoen met meer as 70 punte in die liga. Hoofafrigter Miguel Cardoso van Portugal is die eerste nie-Suid-Afrikaanse afrigter in tien jaar wat die titel opraap.
# Krieket: Die Bangladesjiese snelbouler Mustafizur Rahman gaan Jake Fraser-McGurk by Delhi Capitals vervang vir die res van die Indiese Premierliga nadat die Australiese kolwer besluit het om nie terug te keer wanneer die kompetisie Saterdag hervat nie. Rahman het ook in 2022 en ’23 vir Delhi gespeel en altesaam 61 paaltjies in die IPL geneem. Fraser-McGurk se onttrekking volg op dié van die Engelse bouler Jamie Overton van Chennai Super Kings, terwyl verwag word dat nog spelers gaan onttrek omdat die nuwe skedule met ander verpligtinge bots.
# Motorsport: McLaren gaan na verwagting omvattende opgraderings aan sy motors aanbring vir die naweek se Emilia Romagna Grand Prix op Imola in Italië. Die span het dié seisoen reeds vyf van die eerste ses wedrenne gewen en het ‘n voorsprong van 105-punte boaan die vervaardigers-kampioenskap. Die Brit Lando Norris, wat 16 punte agter sy Australiese spanmaat Oscar Piastri is in die bestuurders-kampioenskap, sukkel met sy motor. McLaren se spanhoof, Andrea Stella, hoop die opgraderings sal die motor makliker maak vir Norris om te bestuur.
# Rugby: Holly Davidson sal die eerste vroulike skeidsregter en die eerste Skot sedert Jim Fleming in 1998 wees om ’n Europese eindstryd te hanteer na haar aanstelling vir volgende Vrydag se Uitdaagbeker-kragmeting tussen Bath en Lyon in Cardiff, Wallis. Sy was die eerste vrou wat skeidsregter was van ‘n Springbokwedstryd toe die Bokke verlede jaar in Bloemfontein teen Portugal gespeel het en sal weer in Julie die rol vervul in die toets tussen Suid-Afrika en Italië. Davidson was ook skeidsregter in die laaste twee Sesnasies-toernooie.
En SA Rugby se president, Mark Alexander, het hulde gebring aan Cornal Hendricks en hom beskryf as ‘n uitsonderlike atleet wie se bydrae tot die sport altyd onthou sal word. Die 37-jarige gewese Springbok-vleuel is gisteraand oorlede, vermoedelik na ‘n hartaanval. Hy het 12 toetse vir die Bokke gespeel en Boland, die Cheetahs en die Bulle verteenwoordig. Alexander sê Hendricks was een van daardie spelers wat die sport liefgehad en uiters hard gewerk het, maar altyd met ‘n glimlag, en het almal met respek behandel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….