Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met krieket: Die DA dreig om Krieket Suid-Afrika by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie te verkla as die kaptein van die Onder-19-span, David Teeger, nie voor die Wêreldbekertoernooi heraangestel word nie. Teeger is uit die posisie onthef weens vrese dat betogers hom kan teiken oor sy pro-Israelse standpunt. Teeger is verlede maand onskuldig bevind aan wanoptrede nadat hy Israelse soldate op ‘n toekenningsgeleentheid geloof het. Die DA hou vol sy verwydering verbreek die Handves van Regte, en beskou die besluit as ondeurdag. Die Wêreldbekertoernooi begin Vrydag.
Krieket Suid-Afrika sê intussen hy straf Teeger nie omdat hy Joods is nie, maar om hom te beskerm. Teeger bly lid van die Onder 19-Wêreldbekerspan, maar die Wes-Kaapse speler, Juan James, het die kapteinskap oorgeneem. KSA se raadsvoorsitter, Lawson Naidoo, sê hulle wil hê die Wêreldbekertoernooi moet sonder ontwrigting voortgaan.
# Rugby is volgende aan die beurt: Die Cheetahs se kaptein, Victor Sekekete, sê swak dissipline en ʼn verlies aan fokus het hulle ʼn oorwinning oor Pau in Amsterdam gekos. Die Bloemfonteinse span het gister in hulle Europese Uitdaagbeker-wedstryd met 20-33 teen die Franse span verloor. ʼn Oorwinning vir die Cheetahs sou vir hulle die weg gebaan het na die uitspeelwedstryde. Pau is ná hulle sege weer vol hoop om die ronde van 16 te haal. Sekekete sê hulle moet nou op hulle volgende wedstryd teen Oyonnax in Frankryk fokus:
# Ons kom volgende by gholf: Tommy Fleetwood van Engeland het voëltjies behaal op die laaste twee putjies en die Dubai-uitnodigingstoernooi gewen met een hou voor Rory McIlroy van Noord-Ierland en die Suid-Afrikaner Thriston Lawrence. McIlroy was een hou voor toe hulle by die laaste putjie kom, maar sy afslaanhou het in die water beland. Die Engelsman het die ongelooflike voëltjie van 4,8-meter behaal om die titel op te raap. Lawrence het saam met McIlroy op 18 onder klaargemaak. Fleetwood sê dit was belangrik om gefokus te bly, veral oor die laaste twee putjies:
# Ons sluit vandag af met tennis: Die verdedigende kampioen, Novak Djokovic, het groot geskrik in die eerste ronde van die Australiese Ope maar bly op koers vir sy elfde titel in Melbourne, en ‘n nuwe rekord van 25 Grand Slams. Die Serwiër kon eers na meer as vier uur die 18-jarige kwalifiseerder Dino Prizmic van Kroasië met 6-2, 6-7, 6-3, 6-4 verslaan. Die Amerikaner Taylor Fritz en Andrey Rublev van Rusland het in hulle wedstryde ook elkeen vyf stelle nodig gehad om na die tweede ronde deur te dring. Djokovic was vol lof vir Prizmic, wat 178ste op die wêreldranglys is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….