Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Suid-Afrika se Verenigde Rugbykampioenskapspanne berei voor vir ’n Walliese inval hierdie naweek. Terwyl die Bulle reeds hul plek in die top vier verseker het, is alle oë op die Haaie, wat hoop om ’n tuiskwarteindstryd te beklink. Die Stormers en die Leeus moet hulle wedstryde wen om die top-agt te haal. Die Haaie speel vanaand in Durban teen die Ospreys. Môre kom die Bulle in Pretoria teen Cardiff te staan en die Stormers speel in Kaapstad teen die Dragons. Die Leeus verwelkom die Scarlets Sondag in Johannesburg.
Die meerderheid van die Britse en Ierse Leeus se span vir vanjaar se toer na Australië kom intussen van Ierland en Engeland. Kaptein Maro Itoje word vergesel deur 12 ander spelers van Engeland, terwyl Ierland 15 spelers in die groep het. Skotland word deur agt spelers verteenwoordig, terwyl Wallis se 17 opeenvolgende toetsverliese weerspieël word deur die feit dat slegs kaptein Jac Morgan en skrumskakel Tomos Williams ingesluit is. Die Suid-Afrikaans-gebore Skotse spelers Duhan van der Merwe en Pierre Schoeman is ook in die groep.
# Krieket: Die agt oorblywende wedstryde van die Pakistanse Superliga is na die Verenigde Arabiese Emirate verskuif weens die toenemende spanning op die grens met Indië. Minstens 31 burgerlikes is dood en 46 gewond toe Indië Woensdag missielaanvalle uitgevoer het in Pakistan en dele van Kasjmir wat deur Pakistan geadministreer word. Volgens berigte het een hommeltuig nie reg gevuur nie, wat ‘n ontploffing naby die Rawalpini-krieketstadion veroorsaak het. Die PSL se organiseeders sê hulle wil baie graag die toernooi voltooi, maar spelers se veiligheid word vooropgestel.
# Sokker: Manchester United kom op 21 Mei in Bilboa, Spanje, teen Tottenham Hotspurs te staan in die eindstryd van die Europaliga. Twee doele deur Mason Mount van United het aan sy span die oorwinning van 4-1 oor Athletic Club besorg in hulle tweede halfeindstryd-ontmoeting op Old Trafford. United het met 7-1 volgens doelgemiddelde gewen. Tottenham het deurgedring na hulle eerste Europese eindstryd in ses jaar deur Bodø/Glimt 2- 0 te klop. United se hoofafrigter, Ruben Amorim, sê dis baie spesiaal om die eindstryd te haal:
# En Olimpiese Spele: Die Los Angeles Memorial Coliseum en die SoFi-stadion sal die openingsgeleentheid van 2028 se Spele in suidelike Kalifornië deel – iets wat nog nooit tevore gedoen is nie. Die Coliseum, wat ook die afsluitingsgeleentheid sal aanbied, sal die eerste stadion word om by drie Spele, betrokke te wees ná 1932 en ’84. LA-28 se voorsitter, Casey Wasserman, sê hierdie twee plekke sal Los Angeles se ryk sportgeskiedenis en vooruitstrewende toekoms uitlig, en die allerbeste ten toon stel wat die stad op die wêreldverhoog kan bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….