Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Suid-Afrikaanse kolwer Lhuan-dré Pretorius het by Rajasthan Royals aangesluit as plaasvervanger vir die beseerde Nitish Rana vir die oorblywende wedstryde van die Indiese Premierliga. Die 19-jarige wat nog sy internasionale buiging moet maak, het die meeste lopies aangeteken in vanjaar se SA20, naamlik 397 in 12 wedstryde. Rajasthan is nie meer in die wedloop vir uitspeelwedstryde nie, maar het nog twee wedstryde oor – teen Chennai Super Kings in Chennai en Punjab Kings in Jaipur.
Die Protea-vroue se plaasvervanger-kaptein, Chloé Tryon, sê intussen hulle moet nou basiese dinge goed begin doen. Suid-Afrika het ‘n nederlaag van 23 lopies teen die Indiese Vroue gely in hul eendagwedstryd in Colombo. Dit sluit hulle uit Sondag se eindstryd. Indië het 337 vir nege lopies aangeteken, met Jemimah Rodrigues wat 123 bygedra het. Die Proteas is daarna beperk tot 314 vir sewe, met Annerie Dercksen op 81. Tryon sê ondanks die nederlaag het die span het baie karakter getoon. Suid-Afrika speel môre teen die gasvrou, Sri Lanka.
# Sokker: Kaartjies vir Saterdag se Nedbankbeker-eindstryd tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates op die Moses Mabhida-stadion in Durban is amptelik uitverkoop. Stelselfoute het egter veroorsaak dat meer as tien-duisend kaartjies te veel verkoop is. Die uitvoerende hoof van Stadium Management South Africa, Bertie Grobbelaar, sê aanhangers wat nie plek het nie, sal terugbetalings ontvang. Hy sê openbare kykgebiede sal op die strandgebied en in Albertpark opgerig word vir dié wat nie kaartjies het nie:
# Motorsport: Bradley Cox van Suid-Afrika het sy eerste fabrieks-renjaerkontrak onderteken om by die Franse span Sherco Rally aan te sluit in die Wêreld-Veldrenkampioenskap. Hy is die seun van Alfie Cox, wat tussen 1998 en 2005 KTM se amptelike renjaer was, drie keer op die Dakar-tydren se podium gestaan en agt skofte gewen het. Die 23-jarige Bradley het verlede jaar die Rally2-Wêreldbeker gewen. Hy sal sy RallyGP-buiging maak in die Safari-tydren van die 18de tot die 24ste van hierdie maand ter voorbereiding vir volgende jaar se Dakar-tydren.
# En ten slotte, rugby: Die toergroep van die Britse en Ierse Leeus sal vanmiddag tydens ’n spesiale seremonie in Londen aangekondig word. Hoofafrigter Andy Farrell gaan na verwagting ’n groep van 37 spelers aanwys vir die toer na Australië wat drie toetse teen die Wallabies en ses ander wedstryde insluit. Die Leeus het teen die Springbokke verloor met hul vorige toer in 2021 ná ’n gelykopuitslag teen die All Blacks in 2017. Hul laaste reeksoorwinning was teen die Wallabies in 2013.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….